Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Skedels raak kuns in Susna se hande

Skedels wat rondlê en verniet in haar omgewing beskikbaar is, het Susna Botha van die plaas Bloubosfontein in die distrik Boshof geïnspireer om ’n besigheid vanuit ’n agterkamer op hul erf te begin.

“Ek het aanvanklik ’n uitlaatklep vir my kreatiwiteit gesoek en wou ’n stokperdjie begin wat nie te veel kos nie,” vertel sy opgewonde.

Wat eens vir haar net ’n afwisseling van haar boerdery- en gesinsverpligtinge was, het egter gou momentum gekry en haar skedels word nou selfs as lampskerms gebruik.

“Elke skedel is anders. Party verf ek, ander vernis ek. Geen twee skedels is dieselfde nie,” vertel die ma van Gitè (3) en Arno (17).

Susna Botha graveer van die skedels vir die mooi, soos dié een van ’n merinoram.

Skedels waarmee sy die afgelope jaar gewerk het, wissel van eland tot merino en sy wil nog graag eendag ’n skedel van ’n bison, ’n argali-ram of ’n beer kerf. “Dit gaan maar sukkel om een van hulle in die hande te kry.

“Plaaslik beskikbaar sal ek baie graag my hande op ’n kameelperd of Ankole-bul wil kry. ’n Vierhoring-Damara-ram is kort op sy hakke. Party is vir die uitdaging en ander net omdat jou werksoppervlak só groot is dat jy baie mooi dinge kan doen.”

Terwyl sy werk, is haar gedagtes stil. “Ek fokus op my hande en been – dit is al. Dis amper soos meditasie. Almal ‘verloor’ hulself in iets – ’n goeie boek of akkertjie vol blomsaad. Myne is been,” sê hierdie boervrou wat ook deeltyds as lewensafrigter optree.

Botha put uit verskeie bronne inspirasie. “Soms wil iemand iets spesifieks gegraveer hê, dan is die uitdaging om die manier te kry waarop dit op die bepaalde skedel gedoen kan word.

“Soms gaan sit ek en teken vryhand ’n ontwerp – iets wat vir my werk of wat ek dink die skedel op sy mooiste sal laat vertoon.”

Susna Botha van Boshof is bekend om haar graveerkuns.

Ander kere sien sy ’n mooi barokontwerp en kan dadelik visualiseer hoe dit driedimensioneel op ’n sekere skedel sal lyk.

“Soms praat die skedel, maar ander kere praat die ontwerp ook met my,” lag sy.

Haar klante wissel in ouderdom en smaakvoorkeure. “(Sommige) mense hou van jagtrofees, maar soek iets ‘anders’ terwyl ander net van die kuns hou.”

Dit neem haar van 20 tot 60 uur om ’n skedel te graveer.

“Soms werk ek aan ’n kop en voel die inspirasie raak nou bietjie min. Dan sit ek hom eers eenkant en werk aan iets heeltemal anders tot ek weer ’n plan sien.”

Ruimte vir foute maak, is weinig en sou daar ’n fout gemaak word, word dit deel van die ontwerp. “Die uitdaging is om ’n manier te kry om die ‘fout’ by die ontwerp as ’n geheel te laat insmelt. Amper elke een (skedel) het iewers ’n fout.”

Links: Hierdie elandskedel wat Susna Botha gegraveer het, word as ’n lamp gebruik.

Sy verduidelik dat daar baie is wat in die proses verkeerd kan loop. “Skedels wat skoon gekook is of in die son gelê het, kan splinter of kraak.”

Juis daarom dra sy haar masker, met vervangbare filters, en veiligheidsbril getrou.

“Been kerf hou onsigbare gevare in. Beenstof is so fyn dat dit in jou bloedstroom opgeneem kan word en jou longe natuurlik ’n knou gee.”

Hoewel elke sport of kuns beserings inhou, was Botha darem enige beserings gespaar.

“Met my eerste skedel het ek wel my graveermasjien se buigbare as morsaf gebreek omdat ek hom laat raak het aan ’n stukkie materiaal. ’n Mens skrik net een maal so groot en dan fokus jy ’n bietjie.”

Meer oor:  Boshof  |  Kontrei  |  Kuns
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.