Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Slange veral in hitte ná reën aktief

Een van die vreemdste plekke waar Dawie Griesel van Kimberley al ’n slang gevang het, is in ’n rekenaardrukker in ’n hospitaalkantoor. Hy moes onlangs ’n Kaapse kobra, ook as ’n geelslang bekend, uit so ’n toestel haal.

Volgens Griesel, een van die gekwalifiseerde slanghanteerders met ’n permit wat in die Kimberley-omgewing werk, raak slange van Oktober af goed bedrywig.

Mase Manopole, die Noord-Kaapse LUR vir landbou, grondhervorming, landelike ontwikkeling, omgewing en natuurbewaring, het Noord-Kapenaars verlede week versoek om op die uitkyk te wees vir slange, wat nou in die warmer weer en ná die reën baie aktief raak.

Sy herinner inwoners daaraan dat dit onwettig is om ’n slang dood te maak en dat slanghanteerders gekontak moet word om dié reptiele te vang en in die natuur vry te laat.

Dawie Griesel van Kimberley met ’n Suid-Afrikaanse luislang.
Melandrie Griesel met ’n bruin huisslang.

Dat slange wel in bewoonde gebiede voorkom, is geensins te betwyfel nie.

Volgens Griesel is die Kaapse kobra, pofadder, molslang en bruin huisslang die soorte slange wat hy die meeste uit huise of van erwe moet verwyder. Van dié soorte is hy die versigtigste vir ’n pofadder, omdat dit die slang is wat die vinnigste kan pik.

“My gunstelingslang is die Suid-Afrikaanse luislang. Ek was al bevoorreg om een hier in Kimberley te vang. Hy was so net oor die drie meter lank,” vertel hy.

Luislange is ’n bedreigde slangsoort.

In Januarie 2018 moes Griesel ’n swartspoegslang in ’n huis in Kimberley vang. Wat dit interessant maak, is dat die slang nie normaalweg hier voorkom nie en dat sy natuurlike gebied 400 km van Kimberley af is. Daar word vermoed dat dié slang ’n “ryloper” was wat homself in ’n voertuig tuisgemaak en só in Kimberley beland het.

Griesel moes behoorlike oogbeskerming dra om dié kalant te vang.

Wanneer Griesel of een van die ander gekwalifiseerde slanghanteerders ’n slang gevang het, laat hulle dit op vasgestelde plekke, weg van mense en streng onder natuurbewaringsregulasies vry.

“Ek is gemaklik, maar versigtig. Dit bly altyd gevaarlik om ’n slang te verwyder. Daar kan altyd iets verkeerd gaan,” sê Griesel.

Solank as wat hy kan onthou, hou hy van slange.

Hy is ’n nutsman en vertel dat dit soms moeilik is om ’n werksverpligting te onderbreek om eers ’n slang te gaan vang.

“Maar ’n mens probeer altyd help,” sê hy, al kry slanghanteerders nie betaling vir hul werk nie.

Net soos Manopole raai Griesel inwoners aan om nie rommel rondom hul huis of in hul erf te laat lê nie en dit skoon te hou. Rommel bied ’n ideale blyplek vir knaagdiere, wat op hul beurt slange lok.

Wanneer inwoners ’n slang in hul huis, tuin of plek waar mense is, opmerk, moet die slang van ’n veilige afstand af dopgehou word en ’n slanghanteerder gekontak word.

Griesel en sy broer Ryno is albei gekwalifiseerde slanghanteerders, en Griesel se dogter Melandrie (13) het reeds haar eerste slangkursus met 97,6% geslaag. Sy volg nou ’n gevorderde kursus.

Hy sê Melandrie sit hom ore aan met die identifisering van slange.

Griesel beklemtoon die belangrikheid van die regte permitte om slange te mag vang en vry te laat. Hy behoort aan die Afrika-slangbytinstituut (ASI) se vereniging vir die redding van slange en die ASI se herpetologiese vereniging, en het “al die permitte vir vang en vervoer”.

Gekwalifiseerde slanghanteerders in die Noord-Kaap is onder andere:
  • Kimberley: Dawie Griesel (084 240 6353), Ryno Griesel (083 444 8003) en Sharmaine Kruger (082 330 5328);
  • Upington: Emelda Tshishiku-Diyi (079 898 6586);
  • Kuruman: Mdu Nkosi (082 335 7385); en
  • De Aar: Llewellyn Festus (082 457 9851)

  • Die berig het eers in NoordkaapBulletin verskyn.
Meer oor:  Luislang  |  Kontrei  |  Slangvanger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.