Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Kontrei
Vingers vlytig met naald en materiaal

’n Gr. 5-leerling van Kroonstad het tydens die staat van inperking in ’n jong entrepreneur ontluik.

Die 11-jarige Mikaylah Mynhardt, ’n leerling aan die Kroonheuwel Primêre Skool, maak die karakters van die aanlyn speletjie Among Us uit materiaal. Die speletjie was tydens die grendelstaat besonder gewild onder kinders.

“Mikaylah het een middag ’n ou kous gebruik om een van die karakters van die speletjie te maak en net daar het die gogga haar gebyt,” sê haar ma, Jacquoline.

“Sy het karakters met lap en stopsel begin maak en was tevrede met die eindresultaat. Toe het sy besluit om karakters te maak en te verkoop.”

Mikaylah Mynhardt (11) van Kroonstad het tydens die staat van inperking haar entrepreneursvaardighede ontdek. Hier is van die karakters wat sy maak en verkoop. Foto: Verskaf

Mikaylah wil graag ’n rekenaar koop met die inkomste wat sy verdien. Sy het ’n patroon vir die maak van die karakters van die internet afgetrek. Sy was egter nie daarmee tevrede nie en het haar eie patroon ontwerp.

Sedertdien het die bestellings ingestroom en Jacquoline het net raad gegee oor hoe om die karakters vir klante te verpak.

Mikaylah sê naaldwerk is vir haar soos speel en sy geniet die stokperdjie vreeslik. Dit is ook vir haar lekker om te sien dat haar maats met die karakters speel wat sy maak.

Mikaylah se vernuftigheid in naaldwerk verbaas baie mense, maar sy en haar ouer sussie, Samantha, ’n gr. 7-leerling, het voorheen gereeld vir hul Barbie-poppe klere gemaak.

Boonop het hul ouma Hannelie Labuschagne die twee sussies tydens die 2018-Desembervakansie geleer om hul eie ski-broeke te maak. Dié taak het hulle maklik onder die knie gekry, en albei die sussies toon ’n groot liefde vir naaldwerk.

Sy het haar ouma Karen Mynhardt se naaimasjien geërf en dit gebruik sy om die karakters aanmekaar te stik.

Intussen beplan sy om die karakters groter te maak en om die reeks met ’n verskeidenheid karakters uit te brei. Sy sê ook haar idees raak nie op nie en sy geniet dit om die karakters te skep en te verkoop. Seuns én meisies is haar klante.

Mikaylah droom daarvan om eendag haar eie koffiewinkel, wat mooi goedjies verkoop, te besit. Sy is baie lief vir lees en kuns, en sy speel ook blokfluit. Sy neem ook deel aan jukskei en in 2019 is sy vir die nasionale o.13-span gekies.

Haar familie is verbaas deur, en baie trots op, Mikaylah wat haar entrepreneurs­vaardig­hede tydens die grendeltyd so geslyp het.

  • Die berig het eers in VrystaatKroon verskyn.
Meer oor:  Kroonstad  |  Inperking  |  Entrepreneur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.