Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
Reuse op Nampo Oesdag laat monde oophang
Eduard Jansen van Rensburg (6) en sy sussie Lize-Mari (4) sit in die wiel van een van John Deere se reusetrekkers. Foto: Mlungisi Louw

’n Selfaangedrewe Russiese stroper het boere se monde laat oophang op Nampo.

Reusewerktuie van oor die wêreld heen het besoekers aan vanjaar se Nampo Oesdag laat opkyk in verwondering.

Met nuwe skeppings uit Rusland, Duitsland en Italië was dit nie net die Amerikaanse John Deere wat met superwerktuie gespog het nie.

Dit is duidelik die Russe ken ook hul stropers met hul nuwe reeks selfaangedrewe werktuie wat tot in die hemelruim strek.

Versatile se Nova320, ’n selfaangedrewe stroper, is die nuwe toevoeging tot hul reeks.

Louis Alberts, verkoopsbeampte, sê dit is die werktuig se prys, R1,43 miljoen, wat uitstaan. Hy sê die Russe is meesters in boerdery.

“Hulle het verlede jaar 130 mil­- joen ton koring gestroop en 45 mil­joen ton mielies. Dit is sowat vier keer meer as wat in Suid-Afrika gestroop is.”

Dié kompakte kanniedood werk met ’n satellietstelsel en kan vooraf geprogrammeer word volgens die boer se spesifieke behoeftes.

Andreoli Engineering uit Noord-Italië het sy oesmasjiene ten toon gestel, en was veral trots op die Andreoli Atom 2000, sy nuwe vierwielaangedrewe boordspuiter.

Hy kos R2,1 miljoen en sal veral van nut wees vir groot boere wat minstens vyf spuiters en vyf trekkers op hul plaas het.

Justin Hearne, ’n boer van die plaas Danroc by Nelspruit, sê dit is ’n nuwe konsep wat goed behoort te vaar onder Suid-Afrikaanse boere.

John Deere se CP690-katoenplukker van 30 ton, te koop vir R10 miljoen, was een van die duurste landbouwerktuie in die land.

Dié werktuig kan geplukte katoen baal en toedraai sonder dat die voertuig hoef stil te hou.

Nampo 2019 het altesaam 81 345 besoekers gelok.

Jaco Minnaar, voorsitter van Graan SA, sê ná die grondhervormingsdebat, droogte en lae graanpryse van die afgelope jaar was die positiwiteit van produsente merkbaar.

“Dit is opmerklik dat die on­sekerheid minder is as verlede jaar. Ek het ’n oplossing- en groei­gedrewe ingesteldheid by produsente opgemerk.”

Dr. Dirk Strydom, bestuurder van graanekonomie en bemarking van Graan SA, sê vanjaar se 775 uitstallers het steeds aftrek gekry ten spyte van die heersende ekonomiese druk op verbruikers. Sommige uitstallers het rekordverkope gehad.

“Ons mikpunt is nie om groter te gaan nie, maar om die ervaring vir besoekers deurlopend op so ’n standaard aan te bied dat hulle volgende jaar weer sal wil kom.”

Hy sê die grootte van die terrein sorg reeds vir ’n rustiger ervaring wat gesinsvriendelik is en iets vir elkeen bied. “Selfs die vliegveld het ’n rekord van 376 vliegtuie en 63 helikopters met gemak hanteer.”

  • Volgende jaar se Nampo Oesdag vind van 12 tot 15 Mei plaas.
Louis Alberts en Jeffrey Salem van Rostovondon in Rusland is baie trots op Versatile se nuwe werktuie. Hier staan hulle by die Nova 320, hul jongste stroper wat hulle met vanjaar se Nampo Oesdag ten toon gestel het. Foto: Mlungisi Louw
Ester en Dries Cornellius van Parys bewonder die miniatuur ponie en haar kalfie. Foto: Mlungisi Louw
Liané van den Berg, Juvan en Janco Botes, Anja du Plessis, Jana-Mari van den Berg, en Jandré en Ané du Plessis by John Deere se CP690-katoenplukker, wat baie voete by vanjaar se Nampo Oesdag buite Bothaville gelok het. Foto: Mlungisi Louw
Andreoli Engineering uit Noord-Italië was veral trots op die Andreoli Atom 2000, hul nuwe vuurwielaangedrewe boorspuiter. Foto: Mlungisi Louw
    Meer oor:  Nampo
    MyStem: Het jy meer op die hart?

    Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

    Ons kommentaarbeleid

    Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

    Kontak Volksblad Kontak ons
    Stemme

    Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.