Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Landbou
SA wolbedryf in goeie toestand
Geoff Kingwill, voorsitter van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO) se volhoubaarheidskomitee, en Peter Ackroyd, president van die IWTO op BKB se eeufeesvieringe op De Oude Kraal net buite Bloemfontein.Foto: Maricelle Botha

Ná drie moeilike maande waarin die wolbedryf gebuk gegaan het onder ’n verbod op die uitvoer van wol en dierevelle na China, is die verbod uiteindelik vroeër vandeesmaand opgehef.

Die uitbreking van bek-en-klouseer in Januarie vanjaar het tot die opskorting van Suid-Afrika se bek-en-klouseer-status en ’n daaropvolgende verbod op wol- en dierehuiduitvoer na China gelei.

Agri SA, saam met sy geaffilieerdes en die departement van landbou, vissery en bosbou (DAFF), het sedertdien met die Chinese owerhede onderhandel om te wys dat Suid-Afrika se wol- en velprodukte veilig vir uitvoer is. Na aanleiding van hierdie pogings het die Chinese owerhede die opheffing van die verbod aangekondig.

Skaapboerderye is egter nog nie heeltemal buite gevaar nie aangesien die verbod op vetterige wol (onverwerkte wol) steeds in plek is totdat dit deur die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid veilig verklaar is.

Suid-Afrika voer jaarliks miljarde rande se wol- en dierevelle na China uit, en die verbod het ’n enorme finansiële druk op die lewendehawesektor geplaas.

Volgens Peter Ackroyd, president van die Internasionale Woltekstielorganisasie (IWTO), word bykans 80% van die wêreld se merinowol in China verwerk, omdat daar nêrens elders in die wêreld so ’n industriële infrastruktuur is nie. Die voorsieningsketting is heeltemal afhanklik van China.

Ackroyd wat onlangs boere by BKB se eeufeesvieringe in Bloemfontein toegespreek het, sê pryse in Suid-Afrika is egter steeds redelik goed in vergelyking met die res van die wêreld. Hy voeg by dat die vraag na wol wêreldwyd op die oomblik goed is, maar dat die droogte in Australië produksie drasties sal beïnvloed.

“Ons verwag dat ons wêreldwyd sowat 20% van ons wol-oes weens van die droogte sal verloor. Ons lewer gemiddeld 220 miljoen kilo’s in skoon merino-wol, vanjaar verwag ons 20% minder. Ons het vyf glorieryke jare van groei gehad, so dit moet verlangsaam.

“Ek voorspel dat in die Noordelike Halfrond se winterklereverkope, sowel vroue- as mansdrag, ook met sowat 20% sal afneem. Dit is dus interessant dat die aanbod met 20% daal, asook die vraag wat met 20% sal daal. Behalwe die veranderlikes is die bedryf relatief stabiel.”

Ackroyd is van mening dat premiumhandelsmerke hul toewyding tot die omgewing wil beklemtoon en daarom is dit van uiterse belang dat boere so deursigtig moontlik boer.

“Jy kan nie ’n massiewe bedrag vir ’n trui, ’n pak klere of ’n baadjie vra en nie weet wat jy gebruik het om dit te vervaardig nie. Ek glo dít is ’n geleentheid vir wol om sy hele verhaal, van die plaas tot by gewilde mode-items op loopplanke, te vertel.”

Hy sê wol is ’n natuurlike, volhoubare, bio-afbreekbare, hernubare produk. Wanneer wol se lewensduur verby is, raak dit net weer deel van die aarde en verryk dit die grond. Wol besoedel ook nie die see nie.

“Die huidige besoedeling van die see word nie net deur plastiekbottels veroorsaak nie, selfs die deeltjies sigbare ophopings van sintetiese tekstielvesels en ander materiale wat jy gewoonlik onder in jou wasmasjien kry, beland in die see,” maan hy.

Volgens hom is dit van uiterste belang dat die boerderyproses deursigtig is, hoewel boere waarskynlik nie daarvan hou nie.

“Wie hou nou daarvan dat mense van buite af kom om jou te vertel hoe jy dinge moet doen wat al geslagte lank op ’n sekere wyse gedoen is? Ons moet egter die verbruiker inlig hoe ons na ons skape omsien en wat op die plaas gebeur.

“Ons moet baie waaksaam wees, want daar is mense met hul eie agendas wat wag dat ons foute maak. Die ideaal is ’n deursigtige voorsieningsketting.”

Meer oor:  Wolbedryf  |  China  |  Bek-En-Klouseer  |  Uitvoer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.