Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
Brands se laaste ure . . . ’n geveg om oorlewing

Dit was die soveelste geel lint wat ’n aanvalstoneel soos ’n pakkie toegebind het – maar dit was een geel lint te veel.

Die grusame moorde op Dan (83), Breggie (73) en hul dogter Elzabie Brand (54) van die Vaalharts-skema was die spilpunt waarom die kwessie van plaasmoorde in Suid-Afrika dié week gedraai het.

Die lint wat Dan en Breggie Brand se huis as ’n misdaadtoneel afgekamp het, was een misdaadtoneellint te veel. Foto: Anena Burger

Die ganse land het in skok en ongeloof die ontvouende gebeure gevolg.

Die Brand-gesin se huis op ’n hoewe naby Hartswater wat eens net lag, liefde en geborgenheid geken het en nie eens omhein was nie, was Maandagmiddag ’n grusame toneel van ’n verbete geveg om oorlewing.

Stephen Bennie, ’n familievriend, het op versoek van sy ou skoolvriendin, Heidie Taljaard, gou by haar ouers en suster ’n besoek gaan aflê om te sien of alles nog in orde is.

Dit was nie ’n vreemde versoek nie; hy moes al ’n paar keer in die verlede gaan kyk hoekom die bejaarde egpaar nie hul selfone antwoord nie.

Hy leun met sy skouer teen die heining by die Hartswater-polisiekantoor, sy glasblou oë is uitgemergel en die trane lê vlak terwyl hy Dinsdagmiddag oor die gebeure van die afgelope 24 uur praat.

Dollie Pieterse het gesien hoe Dan en Elzabie se motors Sondagmiddag voor haar huis verbyry, maar het nie in daardie stadium besef wat gebeur nie. Foto: Anena Burger

Die woorde: “Ek is ’n bietjie emosioneel,” verbloem die gesmeek van moedeloosheid wat ten hemele skree: “My God, ek is gebreek.”

Dit was ’n staande reëling dat hy by die Brand-egpaar gaan inloer. “Dit het al gebeur dat hul fone as gevolg van ’n kragonderbreking nie gelaai was nie. As Heidie hulle nie in die hande kon kry nie, het ek gewoonlik gaan draai.”

Bennie het Maandagmiddag by die gesin se huis aangekom en gesien die twee motors is weg.

“Ek het gedink hulle het iewers heen gery. Niks het verdag voorgekom nie.”

Hy is na die bure, die Pieterse-gesin, wie se huis knap aan die Brands grens, en het daar vir Frieda Pieterse gevra wanneer laas sy die gesin gesien het.

Dit was omstreeks 17:00 en sy het pas van die werk gekom.

Stephen Bennie het op die gruwelike bloedbesmeerde toneel in die Brand-gesin se huis afgekom en die polisie en veiligheidsgroepe ontbied. Foto: Anena Burger

Ook sy en haar ma, Dollie, het die Brands Maandag herhaaldelik gebel, maar geen antwoord gekry nie.

Sy het saam met Bennie weer om die huis gaan stap.

Dit is toe dat hulle Breggie en Dan se brille, en sy hoed, buite gekry en onraad vermoed het.

“Ek het toe aan die agterdeur, wat toe was, gaan voel en dit het oopgegaan,” sê Bennie.

’n Afgryslike toneel het in die huis op hulle gewag.

Die huis was omgekeer en die bloedbesmeerde vloere en sleepmerke was ’n verslag van ’n gewelddadige worsteling wat hom hier afgespeel het.

Nie Elzabie of haar ouers was in die huis nie.

Honderde voertuie het Donderdagoggend ten tyde van die verskyning van die verdagtes wat vir die moorde van die Brand-gesin in hegtenis geneem is, deur die strate van Hartswater in 'n konvooi gery. 'n Pa en sy seun hou 'n banier vas wat vra dat die verdagtes nie borgtog toegestaan word nie. Foto: Anena Burger
'n Bejaarde boer in ’n bakkie wat deel van 'n konvooi in opstand teen plaasmoorde was. Foto: Anena Burger
Boere van die gemeenskap het Donderdagoggend stil bymekaargekom. 'n Somber kombers het oor die plattelandse dorpie Hartswater gehang. Foto: Anena Burger

“Die onmiddellike trauma wat ingeskop het, was die vrees vir die onbekende,” vertel Bennie en knip sy moeë oë.

“Met ander aanvalle is die slagoffers ten minste daar gelos – en dan skop die vrees in, waar begin jy na hulle soek?”

Hy het geensins geslaap sedert hy die polisie, buurtwagte en veiligheidsgroepe na die toneel ontbied het nie.

’n Massiewe soektog is dadelik na die gesin begin.

Sewe polisie-eenhede is by die soektog betrek. Die N18, verskeie paaie en agterpaaie is versper en ’n helikopter is gebruik om na die gesin te soek.

’n Uur later is Dan se rooi Nissan Micra, waarop hy so trots was, gevind.

“Hy wóú ’n rooi motortjie hê,” vertel ’n inwoner wat Dan goed geken het, maar anoniem wil bly.

Die Micra is verlate en beskadig in ’n veld naby Taung gevind. Dit het gelyk asof die motortjie, waarvan die bande gebars het, na dié plek toe gesleep is.

Voertuie wat soos ’n begrafnisstoet deur Hartswater beweeg het, het baniere opgehad wat die gemeenskap se moedeloosheid, verdriet en woede uitspreek. Foto: Anena Burger

Willie van der Ryst, ’n oud-polisieman wat as lid van die veiligheidsgroepe met die soektog gehelp het, het toevallig opgemerk dat ’n wiel naby die Micra gelê het.

“Dit moes die wiel van Elzabie se Mazda CX-5 gewees het.”

Intussen het die wilde gepieng van boodskappe oor WhatsApp soos veiligheidsgroepe gekommunikeer het, in die nag opgeklink.

Omstreeks 23:00 kom die boodskap dat die Mazda naby Pudi­moe, ’n woonbuurt in Taung, voorgekeer is.

Van der Ryst en sy span het die Mazda opgemerk en voorgekeer.

“Ek het in Tswana met hulle gepraat en voorgegee ek soek na iets. Die vrou het gemaklik voorgekom en agter in die motor het twee van die verdagtes doodluiters gesit en drink,” sê hy.

Hy het ook opgelet dat die motor gestamp was en iets met die nommerplaat fout was. Hulle het die drie verdagtes laat gaan, maar hulle bly agtervolg.

’n Huilende Soekie Swartz is buite die hof deur vriende ondersteun. Foto: Anena Burger
Trudie De Beer en Heidie Taljaard, die Brand-egpaar se dogters, gesels buite die hof met Stephen Bennie. Foto: Anena Burger

Intussen het Van der Ryst die voertuig se registrasienommer laat nagaan en terwyl hulle die motor agtervolg het, gesien die een wiel aan die motor is kleiner as die ander.

Hy het van die wiel in die veld naby die Micra onthou.

“Toe die registrasienommer nie met die motor vergelyk kon word nie, het ons hulle weer afgetrek en is die verdagtes in hegtenis geneem,” sê hy.

Elzabie se lyk is Dinsdag omstreeks 01:00 in ondervraging deur van dié mense aan die polisie uitgewys. Sy is in ’n veld sowat 3 km buite die Takaneng-nedersetting met die hulp van ’n hommeltuig, wat deur AfriForum se Vryburg-tak beskikbaar gestel is, opgespoor.

Dié gebied, teen Ghaap se Berg, waar die inwoners se vee gewoonlik vreedsaam wei, is egter moeilik begaanbaar en het die soektog na Dan en Breggie bemoeilik.

Intussen het ’n erg geskokte Trudie de Beer, die gesin se middelste dogter, van Potchefstroom in Hartswater aangekom.

Die polisie en soekspanne moes noodgedwonge die soektog vir die nag staak.

Die lyke van Elzabie, Dan en Breggie Brand is in dié gebied, sowat 15 km van hul huis af en net buite ’n nedersetting buite Taung, gevind. Foto: Anena Burger
Die huis van Dan en Breggie Brand was Dinsdag verlate. 'n Polisielint was die enigste omheining en herinnering aan die grusame toneel waar die gesin aangerand is voordat hulle ontvoer is. Foto: Anena Burger

Teen Dinsdagoggend het ’n onheilspellende wolk van onsekerheid en vrees oor die Vaalharts-skema gehang.

Waar kon Dan en Breggie wees? Dit was toe al bekend dat hulle glo ook vermoor is.

’n Vierde en vyfde verdagte is Dinsdag in hegtenis geneem wat die plek waar die egpaar was, sou uitwys.

Die polisiekantoor was ’n miernes van bedrywighede en op die polisiewerf het die gesin se twee motors soos ’n hartseer getuienis van hul lot geparkeer gestaan.

By die Pieterse-gesin se huis het Dollie, haar seun, Hennie, en Frieda verdwaas op die stoep gesit.

Hulle het nog nie tot verhaal gekom oor wat gebeur het nie.

Fanie Engelbrecht se pa was een van die eerste boere wat jare gelede op sy plaas in Hartswater aangeval was. Foto: Anena Burger

’n Bejaarde Dollie se moeë ou oë kyk ver oor die pekanneut-boord. “Ek het hulle Sondag sien verbyry. Ek het nog gewonder hoekom Elzabie se motor doodruk hier voor die hek en gewonder hoekom sy so sleg ry.”

Dollie het die gebeure deur die venster gesien, maar omdat haar oë swak is, kon sy nie sien wie die motors bestuur nie. Die gesin het ook nie die worsteling van die buurhuis af gehoor nie.

“Die toneel was verskriklik. Jy kon sien hulle het met álles in hulle baklei,” sê Frieda terwyl sy die hartseer trane wegvee.

“Ou Dan het my nog die oggend hier buite gegroet,” sê Dollie.

Hulle het die afgelope drie jaar langs die Brands gewoon.

“Ons het gedink hulle het dalk saam met Elzabie Pretoria toe gegaan om haar goed te gaan haal. Sy het hiernatoe getrek, want sy was besig om te skei,” sê Hennie.

Dit was vir hom vreemd dat hulle nie ’n lig aan gelos het nie en hy het Maandag probeer om vir Elzabie boodskappe te stuur wat nie deurgegaan het nie.

Dan Brand se Nissan Micra is verlate en beskadig naby Taung gekry. Foto: Verskaf
Elzabie (54), Breggie (73) en Dan Brand (83) is Sondag in hul huis op ’n hoewe by Hartswater aangeval, ontvoer en later vermoor. Foto: Verskaf

Die volgende skok het die inwoners van die skema Dinsdag om 17:00 getref toe Dan en Breggie se lyke sowat 500 m van mekaar, en 1 km van waar Elzabie gevind is, gekry is.

Heidie en haar man, Wikus, het Woensdag van die Kaap af in Hartswater aangekom om saam met Trudie die tragedie te verwerk en die vermeende moordenaars in die hof te sien.

Fanie Engelbrecht, ’n boer van Hartswater wie se pa ook aangeval is, sê misdaad hier neem toe.

“Ons is blootgestel. Hoe verwerk ’n mens hierdie aanslag op weerlose bejaardes, jou bure?”

Donderdagoggend met die verdagtes se verskyning het honderde voertuie soos ’n begrafnisstoet deur die strate van Hartswater en om die hof gery.

Soekie Swartz, ’n inwoner wat voor die hof in ’n dreunsang kom betoog het, is bitter hartseer. “Hulle was oumense. Hoe kón hulle dit aan hulle doen?” het sy gehuil.

’n Jong Tswana-man het sy woede uitgeskreeu. Op ’n muurtjie neffens Swartz het hy ’n plakkaat met die woorde: “Stop farm murders” rondgeswaai.

“Pres. Cyril Ramaphosa moet wakker word. Hierdie moorde moet stop. Hy moet Hartswater toe kom, want All Lives Matter, maak nie saak watter velkleur nie,” het nog ’n betoger se woorde oor die skema weerklink.

Meer oor:  Hartswater  |  Aanval  |  Moord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.