Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
In die hart van ’n moordkultus
Jana Marx, skrywer van die boek Afspraak met moord: In die kake van die Krugersdorp-kultus. Foto: Argief

Die Krugersdorpse afspraakmoorde het die land laat regop sit. Die kultusgroep Electus per Deus (“uitverkies deur God”) se reeks koelbloedige moorde spook steeds by mense. Charles Smith het met Jana Marx, skrywer van die boek Afspraak met moord: In die kake van die Krugersdorp-kultus, gesels.

Van teologiestudent tot jou eerste boek oor ’n kultus wat ’n reeks moorde pleeg. Hoe het dit gebeur?

Dis nogals ironies dat ’n teologiestudent op die ou einde die een is wat ’n boek oor ’n kultus skryf. Ek het teologie as ’n nis vir my skryfwerk studeer. Terwyl ek nog studeer het, het ek al in die media begin werk, daarna by Christelike publikasies gevryskut en in 2017 het ek as verslaggewer by Netwerk24 aangesluit.

Hier het ek meestal op misdaad, hofverslaggewing en kerksake gefokus. In Mei 2018 is die Krugersdorp-moordsaak na die hooggeregshof in Johannesburg oorgeplaas en dis ook die tyd toe ek betrokke geraak het.

Ná 60 hofdae en met ’n magdom aan inligting en ’n bisarre storielyn kon dit nie anders as om ’n boek te word nie.

Ek dink my teologiestudies het my redelik ’n agtergrond gegee om te kan verstaan wat ’n kultus behels en ook waarom godsdiens so ’n groot rol in hierdie verhaal kon speel.

Die klomp is almal Afrikaans. Die meeste was lid van die Steyn-clan. Hoe som jy hulle op?

Ek dink wat my die meeste geskok het was hoe gewoon hierdie mense was. In hierdie geval was die moordenaars en die slagoffers gewone mense soos ek en jy.

Die moordenaars het ’n gekwalifiseerde onderwyser wat in daardie stadium Engels gegee het, ’n aktuaris en ’n hoërskoolkind wat net A’s in matriek gekry het, ingesluit.

Dis dus die soort mense met wie ons daagliks skouers skuur of wat voor jou in Woolworths se ry staan. ’n Mens sou vir geen oomblik dink dié mense kan vir jou ’n bedreiging inhou nie.

Wie en wat is Cecilia Steyn? ’n Psigopaat met soveel mag oor ’n klomp mense?

Ek sal nie met sekerheid kan sê of sy ’n psigopaat is nie, want daar is niemand wat haar formeel gediagnoseer het nie. ’n Mens kan natuurlik maar jou bedenkinge hê.

Wie Steyn is? Dié vraag kan eintlik twee antwoorde hê, dit hang af wat jou perspektief is.

Cecilia se weergawe is totaal anders as die realiteit. Dit is twee parallelle wat gedurende die verhaal heeltyd bots.

Aan die een kant het jy die storie van wat Cecilia wil hê jy moet van haar glo.

Sy het haar vriende vertel sy het bonatuurlike mag, sy is die bruid van satan, sy is ’n voormalige satanis met talle universiteitsgrade. . .

Sy het seker gemaak almal verstaan sy is ’n baie spesiale mens in God se oë.

Maar Cecilia was maar net ’n meisietjie wat aan die Wes-Rand grootgeword het. Sy kom uit ’n gewone Afrikaner-huishouding. Haar pa het op die myne gewerk en haar ma was ’n huisvrou.

Sy het volgens haar ouers nie juis maats gehad nie en het maar daar op die koppies tussen die mynhope gespeel. Sy was van kleins af ’n baie moeilike kind.

Dit is nie seker aan watter omstandighede sy blootgestel is nie, maar haar pa vertel die skoolhoof het hom gebel toe sy so in gr. 2 was en gesê sy het ’n drankwinkel se venster uitgegooi. Sy is ook op ’n jong ouderdom koshuis toe gestuur, wat vir my sê dat haar ouers nie regtig geweet het hoe om hul wilde kind te hanteer nie.

Het jy ooit self met haar gepraat – in die hof en daarna?

Sy het presies geweet wie ek is, want ons was vir sowat 60 dae saam in die hof. Ek het in ’n stadium met haar kontak gemaak en het haar saam met haar pa onder in die hof se aanhoudingselle ontmoet, toe sy nog midde-in haar verhoor was.

Wat onderhoude met haar betref: Die doel van die boek was om feite so akkuraat moontlik weer te gee en vir my om ’n onderhoud met haar te voer, sou my in daardie stadium niks in die sak gebring het nie.

Sy was bereid om ’n onderhoud toe te staan in ruil vir twee pakkies Peter Stuyvesant, maar ek het toe op nommer 99 daarteen besluit.

Wat was jou indrukke van haar?

Cecilia het my geensins gedurende die verhoor beïndruk nie. Sy was wel ’n sirkus om dop te hou. Daardie vrou het meer gesigsuitdrukkings as Tobie Cronjé.

Vir iemand wat haar act so lank en so sterk kon volhou, het sy maar ’n bitter powere job in die hof gedoen.

Dit is asof sy besef het sy is nie meer in beheer nie, en asof sy net geen idee het hoe om haarself te handhaaf nie.

Haar volslae ontkenning was volgens my ook ’n baie lafhartig skuif vir iemand wat haarself so lank in beheer van ’n kultus geag het.

Die lafhartigheid maak egter ook eintlik sin. Sy het dan nie eers die guts gehad om op een van die 11 moordtonele te wees nie.

Vertel van die ander lede van die kultus. Almal oënskynlik intelligent. Hoekom ’n rits moorde pleeg as jy weet jy gaan die res van jou lewe in die tronk deurbring?

Ek dink nie een van hulle het gemoor met die wete dat hulle tronk toe sou gaan nie. Trouens, hulle het aanhou moor omdat hulle vir so lank daarmee weggekom het – dit het sterk deurgekom in my navorsing vir die boek.

Die ondersoekbeampte, kapt. Ben Booysen, het Le Roux Steyn ondervra terwyl hy in aanhouding was. Hy wou weet wanneer hulle sou ophou moor. Le Roux het blykbaar sy skouers opgetrek en gesê: “As julle ons nie gevang het nie, nooit nie, Oom. Dit was net te maklik.”

Ek dink nie hulle het ooit gedink hulle sou gevang word nie en ek dink hulle was werklik verbaas toe almal van hulle een na die ander vasgetrek word.

So, ek dink ook nie Cecilia het gedink sy sou ooit in die hof sit en op die ou einde skuldig bevind word aan hierdie misdade nie.

Hulle het dit ook reggekry om totaal dubbel lewens te leef. Marinda, Le Roux se ma, het in daardie tyd byvoorbeeld nog vir graad 10’s Engels gegee!

Sy was so geliefd, die skoolhoof wou kapt. Booysen aanvanklik nie in haar klaskamer toelaat tydens die ondersoek nie. Sy was dan hulle ster-onderwyseres!

Daar was blykbaar nie ’n juffrou by daardie skool wat kon bid soos Marinda Steyn nie. Haar klas se mure was oortrek met Bybelverse. Die kinders was mal oor haar.

Zak Valentine was volgens al sy vriende ’n oulike ou. Niemand kan kleinkry hoe so iemand in Cecilia se mag beland het nie.

Zak is baie intelligent. Hy het hard studeer en goeie punte vir aktuariële wetenskappe aan die Noordwes-universiteit behaal. Hy was ook die verantwoordelike vriend. Sy studentevriende sou hom bel as hulle iemand nodig het om hulle by ’n kuierplek op te laai.

John Barnard het eers later op die toneel gekom.

Le Roux en Marcel Steyn het as tieners hul eerste moorde aanskou of gepleeg. Marcel het tussen die moordtonele deur nog matriekeksamen geskryf en so goed gevaar dat sy keuring gekry het om medies te studeer.

Die titel verwys na die kultuslede wat elke keer ’n afspraak met hul slagoffers gehad het. Was hulle uit en uit op pad om moord te pleeg?

Nee, dis wat hierdie saak so geweldig interessant maak. Volgens die staatsaanklaer wat toe reeds 40 jaar in sy beroep was en berugte reeksmoordenaars vervolg het, is dit die eerste saak in sy soort in ons regsgeskiedenis deurdat dit die eerste keer is dat ’n rampokkerbende misdaad nie net gepleeg het om geld te kry nie.

In baie gevalle was die einddoel bloot moord. Maar in dié saak is van die eerste moorde bloot gepleeg om te moor (“for the sake of murder”). Dit was bloot Cecilia se persoonlike bevrediging en daar was niks satanisties daaraan nie.

Jy is nie oortuig hulle is volbloed sataniste nie?

Electus per Deus het hoofsaaklik gegaan oor mag en beheer en godsdiens (satanisme en Christenskap) is net misbruik om in Cecilia se planne te pas.

Daar was altyd die parallelle stories. Cecilia het ’n persoonlike motief gehad vir waarom veral die eerste mense vermoor moes word.

Maar om haar groep sover te kry om die moorde te gaan pleeg, sou sy ’n godsdienstige storie opdis, soos dat ’n persoon doodgemaak moet word omdat hulle nie meer God se wil navolg nie.

So, dit was absoluut misbruik en manipulering deur middel van godsdiens. Ek is self ’n Christen en Cecilia se weergawe van Christenskap is nie eers naby aan waarin ek glo nie.

Die regter in die saak, duidelik ’n Christen, het in ’n stadium vir Marinda gevra wie hierdie “God” is waarin sy glo, want dis beslis nie die Een wat hy ken nie.

Jy dra die boek op aan die slagoffers en dapper staatsgetuies. Vertel meer oor die getuies?

Ek het uit gesprekke met die polisie en staatsaanklaers besef dat hierdie ’n geweldige moeilike saak vir die staatsgetuies was.

Die hoofaanklaer het vir my gesê hy moes nog nooit in sy 40 jaar in die hof soveel stukkende en bang mense oortuig om te kom getuig nie.

Dit is een ding as ’n getuie onwillig is weens persoonlike redes, maar dis ’n ander ding as getuies ná jare steeds vir hul lewe vrees en die letsels so vlak lê dat hulle eenvoudig nie naby die moordenaars wil kom nie.

’n Klomp van hierdie getuies was in Cecilia se binnekring en het betyds weggekom. Dit is mense wat voel die stelsel het hulle gefaal; mense wat lankal nie meer die polisie vertrou nie.

Ria Grunewald was een so ’n getuie. Sy woon en werk nou nog onder ’n skuilnaam in ’n onbekende plek. Die hof het selfs verbied dat ons foto’s van haar publiseer.

Ek het gesien wat dit aan van die sleutelgetuies gedoen het om in daardie getuiebank te staan en die risiko te loop om dalk deur ’n onverantwoordelike persoon met ’n kamera blootgestel te word. Ek het die wêreld se respek vir hulle. Die sukses van die saak is te danke aan hul dapperheid.

Het jy ná elke dag se hofsaak en berigte vir ’n paar uur by die huis gaan sit en skryf? Het die kultus nie in jou kop geklim nie?

Dit was met tye erger as ander kere, ja. Ek het moeilik geslaap terwyl ek vir die boek se doeleindes in besonderhede deur die moorde moes werk en die moorddossiere en -foto’s onder oë gekry het. Die absolute wreedheid sal my seker altyd bybly.

As jy nou ná die boek een boodskap vir Cecilia Steyn kan stuur, wat sal dit wees?

“Jy het gedink jy gaan nooit gevang word nie. Jy het gedink jy sal altyd in beheer van jou eie koninkryk bly, maar alles is nou op die lappe. En waar jy dalk kan dink dat dit jou famous maak, weet ons net so goed soos jy dat dit eintlik al die mag uit jou hande uit neem. Jy gaan nooit weer mense wat daardie boek gelees het, so kan mislei nie, want almal weet nou wie en wat jy werklik is.”

Wat lees jy graag?

Die laaste boek wat ek gelees het was Runaway Jury van John Grisham. Ek is baie lief vir lees, maar moet bieg: Die meeste van my leesstof op die oomblik hou verband met die navorsing vir my werk by Netwerk24.

  • Jana Marx is ’n oud-leerling van die Hoër Meisieskool Oranje in Bloemfontein en ’n senior joernalis by Netwerk24.
Meer oor:  Satanisme  |  Onderhoud  |  Cecilia Steyn
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.