Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Naweek
Johan Massyn groet DKD ná 43 j.

Om ’n gewapende moordenaar van ’n Ficksburg-boer wat uit die tronk ontsnap en agter ’n bos geskuil het, plat te duik, sy Okapi-mes af te neem, hom eiehandig in hegtenis te neem en met hom agter in jou motor se kattebak terug te ry . . .

Dít is een van die staaltjies wat Johan Massyn, die afgelope 23 jaar reeds hoofinspekteur van die gevangenisse in die Vrystaat en Noord-Kaap, kan vertel wanneer hy op 31 Januarie 2021 aftree ná 43 jaar se ononderbroke diens by die departement van korrektiewe dienste (DKD).

Massyn vertel dit was in 1996/97. Hy het by die provinsiale kantoor as skakelbeampte/hoof van kommunikasie van DKD vir die Vrystaat en Noord-Kaap gewerk toe die gevaarlike moordenaar ontsnap.”

“Ek was juis dié dag by Volksblad en ander media in Bloemfontein om mense deur die media te waarsku teen die man wat ontsnap het. Op pad terug na Grootvlei, by die kruising van die Aliwal-Noord- en Dewetsdorp-pad buite Bloemfontein, sien ek toe hoe iemand agter ’n bos wegkruip.

“Ek het onmiddellik stilgehou en die man het die veld in gehardloop. Ek het hom platgeduik en toe eers sien ek dat hy ’n gevangenis-uniform onder sy private klere aan het. Ek het hom net daar in hegtenis geneem en terug Grootvlei toe gevat.”

Johan Massyn: hoofinspekteur van gevangenisse van die departement korrektiewe dienste (DKD) vir die Vrystaat en Noord-Kaap, tree ná 43 jaar diens af. Foto: Mlungisi Louw

Nog iets wat hy onthou is die keer toe ’n klomp gevangenes in die nag uit die tronk in Lindley ontsnap en by winkels gaan inbreek het. Ná dié uitstappie het hulle weer by die tronk ingeslip, maar hulle is uitgevang toe hulle nie kon verklaar waar die vreemde radio’s en horlosies in hul besit skielik vandaan gekom het nie.

“Hulle het bakstene uit ’n muur verwyder om uit te kom en het dit agterna toegebou. Dit was alles maar moeilik om aan die media te verduidelik,” sê Massyn.

Dan was daar ook die man wat onder sy broer se naam tronkstraf in Bethlehem uitgedien het ná ’n misverstand by die landdroshof ten opsigte van sy identifisering wat deur vingerafdrukke gedoen is, vertel Massyn.

Hy onthou ook die Grootvlei-video en die hantering van die media tydens die Jali-kommissie van ondersoek na Suid-Afrikaanse tronke in die negentigerjare by Grootvlei soos gister. “Die hantering van die media het my slapelose nagte besorg en dit het behoorlik die adrenalien getap.”

Massyn se naam het oor die dekades heen sinoniem met DKD in die Vrystaat en Noord-Kaap, die Bloemskou, vriendelike beeldbou-aksies en goeie dienslewering geword.

Netwerk24 het ook met hom gesels oor sy ervarings as inspekteur van gevangenisse in die twee provinsies die afgelope 23 jaar.

Hy vertel die verskil tussen die ou gevangenisdiens en die nuwe korrektiewe dienste, is dat die ou stelsel meestal op “vergelding” gefokus het en somtyds onmenslike strafmaatreëls toegepas het, terwyl die nuwe stelsel meer fokus op die menswaardige hantering van gevangenes deur doeltreffende programme vir opleidings, behandeling en rehabilitasie aan gevangenes.

“Ek glo as jy iemand motiveer en erkenning gee aan dit wat hy of sy goed doen, ontwikkel dit respek en waardigheid in so ’n persoon se karakter waarvan hy of sy self nie een geweet het nie.

“Ek sê dit op grond van verskeie vrygelate gevangenes wat ten volle gerehabiliteer het en wat vandag volwaardige landsburgers is.”

Maar wie is Massyn?

Johan Massyn: hoofinspekteur van gevangenisse van die departement korrektiewe dienste (DKD) vir die Vrystaat en Noord-Kaap, tree ná 43 jaar ononderbroke diens aan die departement af. Foto: Mlungisi Louw

Massyn, oorspronklik ’n Bethlehemiet van die Oos-Vrystaat, sê hy was maar 17 jaar oud toe hy destyds op 1 Desember 1978 by die Suid-Afrikaanse Gevangenisdiens in Bethlehem aangesluit het.

Dit was slegs vier dae nadat hy aan die Hoërskool Witteberg in Bethlehem gematrikuleer het.

Hy sê hy het sy basiese opleiding destyds aan die John Vorster-opleidingskollege in Kroonstad gedoen.

Daarna het hy by verskeie gevangenisse gewerk en het gou deur die militêre range gevorder tot hy in 1989 tot offisier bevorder is.

Hy was een van die toptien-kandidaat-offisiere in die land tydens die offisierskursus en het ook die naam “Ster van Bethlehem” gekry, sê hy en glimlag.

Nadat hy offisier geword het, het hy bestuursposte beklee by Kroonstad, waar hy assistent-hoof was, en Bethlehem en Upington, waar hy die hoof was. In Bethlehem was hy ’n kaptein en in Upington, adjunk-direkteur.

Dit was om hoofde van gevangenisse te help met die implementering van strategiese beplanning en veranderings-bestuur.

Toe hy daarna as skakeloffisier van DKD vir die Vrystaat en Noord-Kaap na Bloemfontein gekom het, het hy eers die rang van majoor en toe van luitenant-kolonel beklee.

Ná die offisierskursus in 1989 het wyle genl.-maj. Len Louw, wat destyds die provinsiale kommissaris vir DKD in die Vrystaat en Noord-Kaap was, hom op ’n versnelde bestuursontwikkelingsprogram van die DKD geplaas en met die hulp van beurse van die DKD kon hy die nasionale hoër diploma en ’n BA-graad in korrektiewe dienste bestuur, verwerf, vertel hy.

Sy hoofvakke was gevangenes-reg en strategiese bestuur.

In 1991, ’92 en ’93 tydens die oorgangsproses na die nuwe bedeling in 1994, het hy as nasionale fasiliteerder by gevangenisse in die Vrystaat, Gauteng en die Noordwes-provinsies, opgetree.

“Dit was om hoofde van gevangenisse te help met die implementering van strategiese beplanning en veranderings-bestuur,” vertel hy.

Massyn sê hy is in 1994 by DKD se streekhoofkantoor in Bloemfontein as kommunikasiehoof van die Vrystaat en die Noord-Kaap, aangestel.

Sy belangrikste take was om as mediawoordvoerder van DKD op te tree en om met die gemeenskap te skakel en bande te bou.

“In die tydperk as kommunikasiehoof tot 2005 het hy verskeie nasionale en provinsiale eerbewyse ontvang en was vier jaar agtereenvolgens as DKD se Skakeloffisier van die Jaar aangewys.

Hy was ook die eerste Vrystater wat die prestasie-makelaars-wisseltrofee ontvang het vir sy joernalistieke bydraes tot DKD se destydse tydskrif, Nexus.

Ten opsigte van die netwerkvorming wat hy in die pos behartig het, was hy betrokke by talle uitstallings, hondevertonings, orkesoptredes, wat die hoogste punte op talle skoue en feeste in die Vrystaat en Noord-Kaap, behaal het.

In 2005 is hy bevorder tot adjunk-direkteur van die Upington-gevangenis en het van Bloemfontein daarheen verhuis.

In Upington is hy deur die gemeenskap verkies tot een van die direkteure van die Kalahari-Kuierfees en vir die eerste keer kon kunstenaars in die gevangenis aan kuns-uitvoerings soos koor- en drama-opvoerings by dié fees deelneem.

Massyn sê hy het in 2007 terug na Bloemfontein gekom waar hy aangestel is as die hoofinspekteur van gevangenisse vir die Vrystaat en Noord-Kaap, die pos waarin hy nou aftree.

Die taak van die inspektoraat was om interne oudits en inspeksies te doen en om verslag aan die streek-kommissaris en nasionale kommissaris in Pretoria, te doen. Dit was ten opsigte van korrupsie, wanadministrasie en die nie-nakoming van beleidsmaatreëls.

Massyn sê hy was in die tyd, in 2011, ook ’n benoemde vir die prestige Bloemfonteiner van die Jaar-wedstryd en hy het in dieselfde jaar ’n nasionale eerbewys ontvang van die destydse minister van korrektiewe dienste vir uitmuntende prestasie behaal vir die voorkoming van korrupsie en wanadministrasie in die tronke.

Massyn is ook vir die afgelope tien jaar lid van die Bloemskou-beoordelingspaneel vir die handel- en nywerheidsafdeling, is ’n aktiewe lid van die Oud-Greys-sportklub, asook die Sewe Damme-natuurreservaat.

Hy is ook ’n getroue Cheetah-rugby-ondersteuner en wil na sy aftrede aktief hierby betrokke bly.

Massyn sê respek, sensitiwiteit vir mense, selfbeheersing en integriteit, was vir hom ononderhandelbaar in sy loopbaan.

My werk was om sommige bewaarders strafregtelik aan te kla waar sommige tronkstraf moes uitdien vir die strafregtelike oortredings wat hulle begaan het.

“Ek het werklik probeer om my taak as hoofinspekteur van gevangenisse met passie uit te leef.”

Hy voel trots daarop om op 60 uit die DKD se diens te kan tree, sonder dat daar enige tugoortreding teen hom was en is ook dankbaar vir die geleenthede wat DKD en sy mentors vir hom gegun het.

“Ek wil graag hulde bring aan generaals soos Len Louw, Zach Modise, en die huidige streekkommissaris, Subashini Moodley.”

Massyn sê “aftree” is ook nie deel van sy woordeskat nie en hy wil as konsultant strategiese bestuur by plaaslike sakeondernemings, sportspanne en staatsinstansies fasiliteer.

“Dit is ook deel van my plan om my dogter, Anke, in ’n sakeonderneming by te staan en te help om dit verder uit te bou. Die onderneming is deur Anke en my seun, Jock, begin, maar Jock is op 5 Maart 2018 in ’n motorongeluk dood – iets wat my hele lewe verander het,” sê hy.

“Dit is nou een van my doelwitte om te kan voortsit, dit wat my seun in die sakewêreld beplan het.”

Massyn sê hy weet hy het soms vyande gemaak uit die aard van die werk wat hy gedoen het.

“My werk was om sommige bewaarders strafregtelik aan te kla waar sommige tronkstraf moes uitdien vir die strafregtelike oortredings wat hulle begaan het.

“Maar ek het nie slapelose nagte daaroor nie. Ek glo in die beginsel van ‘You can defeat, but must never dishonour your enemy.’ ”

Hy dink ook die taak van korrektiewe beamptes word dikwels deur die gemeenskap onderskat. “Daar word eenvoudig nie genoeg erkenning gegee aan die lojale bewaarders wat hul taak in moeilike en soms lewensgevaarlike omstandighede moet verrig nie.”

Johan Massyn, hoofinspekteur van gevangenisse in die Vrystaat en Noord-Kaap, sê sy stokperdjies is bergfietsry wat hy oor naweke in die Sewe Damme-natuurreservaat in Bloemfontein doen, die buitelewe en stap.

Hy lees graag en die boek waarmee hy nou besig is, is The Power of Now van Eckhart Tolle en die boodskap van die boek is leer uit gister, leef vir vandag en hoop vir môre.

“Dit is ook die boodskap vir ons almal nou in die tyd van inperking,” sê hy.


Meer oor:  Dkd  |  Johan Massyn  |  Vrystaat  |  Noord-Kaap  |  Bethlehem  |  Bloemfontein  |  Aftree
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.