Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Veilings
Gilde hou aanlyn veiling

Die Nedbank Kaapse Wynmakersgilde (KWG)-veiling sal vanjaar sy wynjuwele vir die eerste keer nog aanlyn onder die hamer bring.

Daar wag vanjaar ook iets nuuts met ’n tweede veiling wat dié groot dag vooruit sal loop.

Wynentoesiaste en -versamelaars sal die geleentheid hê om op die huidige versameling veilingswyne te bie, maar sal ook die rare kans kry om op ouer wyne uit die gildelede se private vinoteke te bie.

Die bogenoemde veilings sal apart geskied.

Albei word deur die internasionaal bekende veilingshuis Bonhams aangebied.

Die KWG-vinoteek-veiling sluit klein versamelings van gesogte veilingswyne in wat in die verlede opgeveil is.

Hierdie rare wyne is in ideale toestande in verskeie van die gildelede se private kelders verouder.

Alle opbrengste van die veiling sal in ’n trust geplaas word om wynmakers wat swaar verliese tydens die Covid-19 pandemie beleef het, finansieel by te staan om hul personeel te kan betaal.

Biërs sal twee weke kry om op die Bonhams-webwerf te bie van Vrydag 18 September tot Saterdag 3 Oktober om 16:00 (Londen-tyd).

Die amptelike KWG-veiling word op Saterdag 3 Oktober aanlyn van 12:00 (Londen-tyd) aangebied.

Die wyne op die amptelike Nedbank KWG-veiling sluit weer die huidige jaar se wyne in en soos wat die veiling vorder, sal biërs die geleentheid hê om alles aandagtig op skerms reg rondom die wêreld dop te hou.

Biërs kan aanlyn na die veiling kyk en direk bie, of via die Bonhams-webblad, of telefonies, of deur gevolmagtigde of kommissie-botte vooraf by Bonhams te plaas.

Ondanks die buitengewone omstandighede wat vanjaar die groep genoop het om sake aanlyn te neem, glo Andrea Mullineux, Gilde-voorsitter, dit het nuwe en innoverende idees aangespoor.

“Ons word deur groot uitdagings in die gesig gestaar, maar as leiers in die wynbedryf is dit belangrik vir die Gilde om ’n pragmatiese en positiewe benadering te volg wat ons in staat sal stel om steeds ons gemeenskap, lede en kopers te ondersteun.”

Registrasies vir albei veilings maak Vrydag 14 Augustus op Bonhams se webtuiste (www.bonhams.com) oop.

Volgens die globale direkteur van wyn Richard Harvey is Bonhams verheug om die Nedbank KWG-veiling vir die tweede jaar aan te bied.

“Covid-19 het die ekonomie ’n verskriklike knou toegedien en die wynbedryf het baie seergekry.

“Ons voel geëerd om ook by hierdie baie spesiale KWG-vinoteekveiling betrokke te wees wat geld vir behoeftige kelders en die mense wat daar werk, beskikbaar sal stel. ”

Die KWG hou hom deurlopend by die streng Covid-19-inperkingsmaatreëls soos bepaal deur pres. Cyril Ramaphosa.

Ter wille van almal se gesondheid, is alle sosiale aktiwiteite tot verdere kennisname opgeskort.

Alle openbare byeenkomste is ook vir 2020 gekanselleer.

Die KWG sien uit om in 2021 met sy openbare byeenkomste voort te gaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.