Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Veilings
Korona ruk die veilingsbedryf

In ’n dramatiese omwenteling word veilings wêreldwyd uitgestel en aanlyn gemigreer weens die impak van die Covid-19-pandemie.

Groot internasionale veilingshuise het reeds tientalle van hul veilings uitgestel en van hul kantore gesluit.

Die opveiling van vee en die verkoop van noodsaaklike landboukommoditeite sal voortgaan tydens Suid-Afrika se inperktyd, maar wel onder streng voorwaardes.

Sotheby’s het die afgelope week bekend gemaak dat hy agt veilings uitgestel het, waaronder die Hongkongse lenteverkoping, en dat 17 nog soos geskeduleer sal plaasvind. Die meeste van dié wat nie uitgestel is nie, vind óf aanlyn plaas óf in Londen. Ook gaan die ontwerpsverkoping op 31 Maart soos beplan in New York voort.

Sotheby’s se Londen-kantoor sal oop bly vir die publiek en sy Hongkong-kantoor sal per afspraak sy deure open, maar sy kantore in Dubai, Genève, Milaan, New York, Parys en Zürich is tot verdere kennisgewing gesluit.

Dié aankondiging kom nadat Phillips en Christie’s ook aangedui het dat die meeste van hul veilings onbepaald uitgestel is.

Die hele kunswêreld hiberneer tans nadat die meeste van die groot museums en private galerye hul deure voorlopig gesluit het en kunsmarkte oor die wêreld gekanselleer is.

Sommige Suid-Afrikaanse veilingshuise het in die voetspore van hul internasionale eweknieë gevolg en van hul regstreekse veilings uitgestel. Die besluit ondersteun die regering se maatreëls, waarvolgens groot byeenkomste verbied word.

Bloemfontein se NRE Auctioneers is een van die plaaslike veilingshuise waarvan die veilings uitgestel word tot latere ’n stadium.

Die insolvente veiling van JJR Botes se plaas Salomosrus in Bultfontein wat op 8 April gehou sou word en die plase Roodekop en Roodeheuvel in Bloemfontein wat op 15 April onder die hamer sou kom, is tot latere datums uitgestel.

Hennie Gouws van NRE Auctioneers sê nuwe datums sal ná die opskorting van die inperktyd bekend gemaak word, maar kopers is welkom om in hierdie tydperk enige aanbiedinge te maak op hierdie eiendomme. Intussen kan persone wat meer inligting verlang, hom bel by 083 675 7117.

Sarel Myburgh van Tobie Myburgh Afslaers, ook in Bloemfontein, het hul praktiese reëlings gereed om te kan deelneem aan die toegelate veilings.

Die opveiling van vee en die verkoop van noodsaaklike landboukommoditeite sal egter voortgaan, maar onder streng voorwaardes. Só het Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, vandeesweek aangekondig te midde van Suid-Afrika se 21 dae lange inperktyd teen die koronapandemie.

Hiervolgens sal die uit- en invoer van kritieke landboukommoditeite ook voortduur.

Sarel Myburgh van Tobie Myburgh Afslaers, ook in Bloemfontein, het hul praktiese reëlings gereed om te kan deelneem aan die toegelate veilings.

Tobie Myburgh Afslaers se personeel, kopers en verkopers mag onder geen omstandighede meer as 100 mense op een van die veilings wat tussen 31 Maart tot 16 April plaasvind, wees nie.

Myburgh sê krale sal vooraf deur die verkopers by hul onderskeie bemarkers bespreek word. Slegs een verkoper, sonder familie en vriende, en slegs geregistreerde kopers, sonder familie of vriende, met kopers­kaarte sal op die veilings toegelaat word.

Hy sê verkoperuitslae sal onmiddellik ná afloop van die veiling aan verkopers per Whats­App of per e-pos gestuur word om die aantal mense by die veilingskantoor te beperk.

Die vark- en suipkalfveilings sal om 09:00 begin en slegs geregistreerde kopers en verkopers sal by die varke toegelaat word. Die skaapveiling sal om 11:00 begin en die beesveiling om 13:00.

Myburgh sê daar is ’n verpligte 2 m spasie tussen alle persone ten alle tye op die veilingsperseel en daar is reinigingsmiddels beskikbaar by die aflaaipunte, waarvan gebruik gemaak moet word.

“Ons vra almal se samewerking, dat net gesonde mense asseblief die veiling sal bywoon terwille van ons personeel, hul families en die res van die gemeenskap. Indien persone nie die maatreëls kan nakom nie, moet asseblief nie in hierdie tyd veilings bywoon nie,” pleit hy.

Geen vee sal sonder ’n volledige verwyderingsertifikaat by die krale ontvang word nie en dit is op die oomblik al wat jy nodig het om die veiling te kan bywoon.

Wimpie du Plessis van Vleissentraal, Bloemfontein, bevestig ook dat alle Vleissentraal-veilings voortgaan gedurende die 21 dag-inperktyd soos deur die regering uitgesonder as deel van ’n noodsaaklike sektor.

“Vleissentraal se kraalveilings sal steeds elke Woensdag om 11:00 by Limousine-veilingskrale op Vleissentraal se perseel plaasvind, terwyl daar streng by die regering se vereistes gehou word,” sê Du Plessis.

Gedurende die 21 dag-inperktyd sal geen kliënte toegang tot die hoofgebou hê nie.

Verdere maatreëls deur Vleissentraal is dat alle voertuie en vragmotors by die toegangshek gestop word sodat daar seker gemaak word dat slegs verkopers en kopers die veiling bywoon; hande word ontsmet volgens die nodige vereistes; by afrekeningspunte waar same­dromming van kopers en ver­kopers is, word die stoele 2 m uitmekaar gepak vir kliënte se veiligheid.

By hierdie punt is ook die nodige sanitasie beskikbaar. Du Plessis sê veilingsklerke sal ook handskoene dra en elkeen het sy/haar persoonlike ontsmetmiddel om te gebruik nadat elke transaksie beklink is.

“Die afslaer sal ook gedurende die veiling gereeld die getalle wat op die pawiljoene sit, kontroleer, Meer as 80 mense sal nie op die pawiljoene toegelaat word nie.

“Gedurende die 21 dag-inperktyd sal geen kliënte toegang tot die hoofgebou hê nie,” sê hy.

Alle wolveilings en -aktiwiteite is van 26 Maart vir eers opgeskort.

Hoewel die regering nie ’n verbod op die verkoop van vee en noodsaaklike landboukommoditeite geplaas het nie, tel landbouprodukte soos wol, tabak, katoen, alkoholiese drank en bosbou nie onder hierdie kommoditeite nie en sal alle aktiwiteite in hierdie bedrywe eers gestaak word.

Meer oor:  Veilings  |  Koronavirus  |  Virus  |  Covid 19-Virus  |  Koronavirussiekte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Volksblad Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.