Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
360 keer is g’n grap

Dié keer was dit nie die op of die af van die moordende Comrades-marathon nie, maar die om en om die huis wat Bennie Roux (42) “baie seergemaak” het. Roux, ’n boorling van Reitz en ’n gesoute marathonatleet, het Saterdag 4 April die ultra-marathonafstand van 90 km in ’n tyd van 10:29 afgelê – deur 360 keer om sy huis in Centurion te hardloop, 250 m op ’n keer, met ’n gemiddelde spoed van 7 minute per kilometer.

Roux, met 11 Comrades-wedlope (en 5 silwermedaljes) agter sy naam, het hom nie deur inperking of gietende reën laat onderkry nie. Die unieke uitdaging was immers vir ’n goeie doel.

Teen Sondagmiddag het hy, teen R300 per kilometer, bykans R70 000 ten bate van die Con Amore-skool vir kinders met gestremdhede in Kempton Park ingesamel.

“Ek moet bieg, ek dink nie ek sal dit weer doen nie,” het Roux Sondag uit Pretoria gesê. Maar toe bygevoeg: “Dit was 360 rondtes. Ek het 360 keer daaraan gedink om te stop. Ek het 360 keer daaraan gedink om te kroek. Maar ek het ook 360 keer aan die kinders van die Con Amore-skool gedink. Ek is ’n sucker vir ’n uitdaging en as mense geld skenk vir ’n goeie doel sal ek dit weer doen.”

Roux se tuis-marathon het gekom nadat ’n vriend hom in Maart uitgedaag het om in die virtuele Mzansi Marathon Lockdown Challenge 42 km in sy erf af te lê en só vir pres. Cyril Ramaphosa se Covid-19 solidariteitsfondsgeld in te samel. Die plan was om elke dag van die staat van inperking 2 km te hardloop daar waar jy ingehok is. Vir dié kranige hardloper was die afstand te min en hy het die hele 42 km toe maar in een dag afgelê. Sy tyd was 04:26.

Aan ondersteuning was daar by sy eie Comrades vanjaar geen tekort nie. Roux se vrou, Isabel, het die een stel droë klere ná die ander aangedra en selfs seker gemaak dat daar by die 60 km-punt ’n tjoppie of vier te ete was. Die egpaar se seuns, Hugo (13), Ruben (11) en Sion (4), het ook hul pa aangemoedig.

Roux is die seun van Andries en Annatjie Roux en ’n oudleerling van die Hoërskool Reitz. Hy sê al hardloop hy deesdae in Gauteng die aarde plat, bly sy hart in die Vrystaat.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.