Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Aanval ’n slag

“Ek wonder of mense ooit sal verstaan deur watter pyn en lyding iemand gaan as hulle in ’n plaasaanval was.”

Cecilia Dinkelman van die plaas Driefontein in die Ficksburg-distrik getuig van die voortdurende spanning waaronder sy en haar man, Jansco, hulle bevind.

“Ons wonder die heeltyd wat ons anders kon doen om die aanval te verhoed. Ek wens niemand dié nagmerrie-ondervinding toe nie.”

Jansco (52) en Cecilia (49) is op Sondag 18 Julie omstreeks 19:00 op die plaas, wat hulle huur, deur rowers aangeval.

Die egpaar boer met bye. Hul boerdery is in 2014 as die beste landbou-onderneming in die Vrystaat aangewys.

“Ons is al twee keer vantevore beroof, in Desember 2014 en in Maart 2015, maar die boewe het toe net gereedskap uit die heuningkamer en goedere uit ons woonhuis gesteel.

“Daarna was daar nooit weer ’n voorval nie, tot verlede Sondag.”

Cecilia het na die egpaar se kat gaan soek. Toe sy by die voordeur kom, het sy besef die veiligheidshek is weg.

Die volgende oomblik het die aanvallers haar gepak en met ’n panga in die nek gekap. Sy het om hulp geskree.

Jansco het die veiligheidshek in die gang oopgesluit om haar te gaan help.

Die rowers het die egpaar na hul kamer gesleep. Jansco is twee keer aan die onderkant van sy skouerbeen gekap, en sy linkerhand is gekap toe hy die aanval probeer afweer.

Die rowers het geld en wapens gesoek. Hulle is met R26 000 in ’n klein losstaande kluis, ’n tabletrekenaar en ’n selfoon weg.

Hulle het nie Cecilia se foon gesien nie en sy kon daarmee hulp ontbied. Boere van die omgewing, die polisie en die ER24-nooddienste was vinnig op die toneel. Jansco het glo bykans 2,5 liter bloed verloor.

Die egpaar is dankbaar vir die flinke optrede en ondersteuning van die boeregemeenskap, die Ficksburg-gemeenskap, ER24-paramedici en die Mediclinc Hoogland se personeel.

Die Dinkelmans benader die verwerking van die trauma “een dag op ’n slag”.

Die polisie sê niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie, en ’n saak van roof en poging tot moord word ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.