Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Alomgeliefde sterf

’n “Groot gees” van Bethlehem het tot en met sy dood diep spore in die harte van sy familie, vriende en die gemeenskap getrap.

Jan Bester (61), wat jare lank ’n geliefde inwoner in Bethlehem was, het Dinsdagoggend 2 Julie aan ’n hartaanval gesterf.

Sy lewe is Vrydag (05/07) in die NG kerk Bethlehem-Oos gevier, waar ds. Rikus Hattingh gesê het hoewel Bester nie meer op aarde is nie, hy net oorgestap het na die Here toe.

Okkie Botha, nabye vriend van meer as 27 jaar, sê hy sal nie vir Bester as foutloos onthou nie.

“Hy kon ’n platjie wees, vol onnutsige ondeundheid, maar Jan het vir my en baie ander gewys hoe om mens te wees in ’n tyd waarin rolmodelle skaars is.

“Hy het gewys hoe om ander se belange hoër as jou eie te ag, en hoe om aan die begin én einde van elke dag jou afhanklikheid van ’n Drie-enige God in die Hemel te bely.”

Bester het in Junie 2017 ’n hartaanval gekry, waarna hy ’n dubbele pasaangeër moes kry en nie meer kon werk nie.

“Die afgelope twee jaar was vir ons geleende tyd. Hy was nie ná die hartaanval weer homself nie,” sê Malie Kruger, sy suster.

Maryna, sy vrou, was voorheen ’n wiskunde-onderwyser aan die Laerskool Jordania, maar het die afgelope twee jaar heeltyds vir Bester versorg.

Hulle het twee kinders, Casper (26), ’n veearts in Ladybrand, en Heloïse Bester (28), ’n geoktrooieerde rekenmeester in Londen.

Bester se seun Casper sê enigeen wat slegs vyf minute in sy pa se geselskap bestee het, sou nie as dieselfde mens daar wegstap nie.

“Ek is dankbaar vir die pa wat hy vir my was, die man wat hy vir my ma was, die mens wat hy vir vreemdelinge was en die persoon wat hy vir sy vriende was. My pa het my geleer om spesiale geleenthede te vier en te koester en om elke dag die lewe te vier.”

Tot twee jaar voor sy dood was Bester ’n verkoopsman en verteenwoordiger van John Deere by Afgri en het selfs nasionale eerbewyse vir sy werk ontvang.

“Die boere wat hy bedien het, het deur die bank die hoogste vertroue in hom gehad,” sê Botha.

Hennie van der Riet, ’n boer van die Winburg-distrik op die plase Kleingeluk en Magpela, sê: “Ek het vir Jan vertrou. Onvoorwaardelik. As hy gesê het wat ’n trekker werd is, het ek dit geglo.”

Van der Riet se persoonlike eerbetoning aan Bester is ’n John Deere-trekker wat hy by Jan voor sy hartaanval in 2017 bestel het, maar eers daarna afgelewer is, waarop hy toe Jan Bester se naam aangebring het.

“Hierdie is my beskeie gebaar van erkenning en lojaliteit aan Jan Bester,” sê Van der Riet.

Ook in die onderwyskringe het Bester ’n sleutelrol gespeel.

Bester was vroeër jare ’n onderwyser aan die Hoërskool Witteberg, waar hy ook as departementshoof van geskiedenis en aardrykskunde gedien het. Hy het daarna die pos as bemarker van die skool beklee.

Botha, wat toe skoolhoof van Witteberg was, vertel dat die skool een van die heel eerste skole in die Vrystaat was wat ’n heeltydse bemarker aangestel het.

“Op Jan se inisiatief is verskeie kursusse oor die land heen vir bemarkers aangebied,” sê hy.

Botha meen Bester was ’n uiters lojale en gewilde onderwyser.

“Hy het voor sy matrikulante se eindeksamen hulle selfs in sy huis laat bly sodat hulle hersiening kon doen,” vertel hy.

Vinia Wheatley sê sy sal vir Bester altyd onthou as ’n onverbeterlike gees-skepper voor die Bethlehem-Derby met sy “Die kat kom weer . . .”

Bester se suster, Malie Kruger, vertel van hul grootwordjare op hul plaas naby Lindley. Hy was die oudste van vier kinders. Behalwe Malie is daar ook Annabie van Wyk en Dinie Riekert.

“Ons het amper soos ’n tweeling saam grootgeword. Ons het slegs 13 maande verskil,” vertel Kruger.

Ná sy laerskoolloopbaan in Lindley het Bester in gr. 8 na Grey-kollege in Bloemfontein geskuif. Kruger, toe in gr. 7, het saam Bloemfontein toe getrek, waar sy by die Hoër Meisieskool Oranje skoolgegaan het.

“Hy het verantwoordelikheid vir my aanvaar. Hy het elke Sondagmiddag van Grey na Oranje gestap om vir my te kom kuier,” vertel Kruger.

Bester het verskeie belangstellings gehad en was baie betrokke in sy gemeenskap. Hy was lid van die Bethlehem-Rotariërs, het twee keer die rol van Petrus in die Passiespele vertolk, hy was ’n stapafrigter en provinsiale blaser vir skolerugby.

Volgens Bester se seun het sy pa nie een Skaapkopfees in Bethlehem gemis nie. Hy sê daar is niemand wat ’n tjoppie so lekker soos sy pa kon braai nie. Elke jaar op 7 Desember, met Bester se verjaardag, was sy huis se deure vir besoekers oop. “Daar is potjie gemaak of gebraai en almal was altyd welkom,” vertel Kruger.

Sy seun som vir Bester op: “My pa was op sy gelukkigste as hy iets vir iemand anders kon beteken. As ek die helfte van die mens kan wees wat my pa was, sal ek tevrede wees.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.