Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Ampswoning verval

’n Voormalige spogwoning in Reitz staan al ’n geruime tyd verlate en ver­waarloos en wek kommer by inwoners.

’n Inwoner, wat anoniem wil bly, sê dit lyk asof die regering “van die waardevolle huis in Conventionstraat vergeet het”.

Volgens hom het die laaste amptenaar wat in die huis gebly het sowat vyf jaar terug uitgetrek.

“Daar is sedertdien nooit weer aandag aan die huis gegee nie. Die huis is in ’n goeie deel van Reitz en daar is selfs ’n swembad.

“Nou het daar reeds soveel verval ingetree dat honderd­duisende rande bestee sal moet word om die huis weer bewoonbaar te maak.”

Volgens Thinus Blignaut, DA-raadslid, het hy die saak by die departement van openbare werke aangemeld, sonder sukses.

“Daar is plakkers wat die huis vandaliseer, afbreek en uitbreek.”

Die bekommerde inwoner sê die krane in die badkamers is afgebreek, ligte en elektriese skakelaars is gesteel en die handvatsels van die vensters is weg.

“Afgesien van die geweldige skade en verlies van belasting­betalers se geld, is die huis ook ’n veiligheidsrisiko vir die bure. Van tyd tot tyd slaap rondlopers in die huis, wat kan dien as basis vir inbrekers.

“Gras en bome groei so wild dat bure besorg is oor brandgevaar.”

Eiendomsagentskappe in die dorp het met die regering kontak gemaak om die huis te verhuur, maar “kom elke keer voor dooiemansdeur”.

“Ons kom nie by die regte plek uit nie,” sê ’n eiendomsagent.

Volgens Mlungisi Maqubela, hoof van kommunikasie en media­skakeling van die Vrystaatse departement van openbare werke, word ondersoek of die eiendom wel aan dié departement behoort.

“Die departement duld nie die vandalisering van eiendom nie, veral nie openbare eiendomme nie,” sê Maqubela.

“Sodra ons bevestig het of die eiendom wel in die departement se bateregister val, sal daar besluit word wat die plan vorentoe met die eiendom is. Dit op die foto’s lyk wel nie goed nie en sal onderhoud verg.”

Die woordvoerder van die Nketoana-munisipaliteit het ondanks talle navrae van Vrystaat Nuus/News nie reageer nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.