Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Betogers staan op regte

Honderde ontstoke inwoners van Senekal, Tambo en Matwabeng het Vrydag (08/03) betoog om te sê hul waterstryd kan nie met knopkieries, swaarde en gewere gewen word nie, maar wel met ’n pen by die stemlokaal op 8 Mei.

Só het Phlip Fourie, inwoner van Senekal, voor die skare in Sotho gesê.

“Waarom moet ons op 8 Mei stem?” lui die plakkaat waarmee die gemeenskap betoog het.

Alfred Ponya, voorsitter van die Matwabeng-waterkrisiskomitee, sê die voorsiening van drinkwater vir die inwoners van Matwabeng, Senekal en Tambo is vir die afgelope sewe jaar, sedert Augustus 2012, ’n groot bekommernis.

Van Augustus 2012 tot Februarie 2013, en weer van Desember 2015 tot Julie 2016, het die dorpe geen lopende water gehad nie.

“Vandag, soos ons hier staan, is daar minder as 25% water in die Syferfonteindam oor,” sê Ponya.

“As dit nie binnekort reën nie, sal ons die hele winter en ’n groot gedeelte van die volgende somer sonder water wees.”

Die versoekskrif lui dat die Setsoto-munisipaliteit nie toegerus is om die noodsituasie te hanteer nie.

Die gemeenskap het begrip dat 2018 en 2019 droë jare is, en dat geen mens of instelling daarvoor aanspreeklik gehou kan word nie.

“Nietemin was Senekal in 2012 – in ’n goeie reënseisoen – sonder water. Dit is ’n feit dat die munisipaliteit in sewe jaar geen poging aangewend het om die probleem met watervoorraad vir alledaagse gebruik op te los nie,” lui die versoekskrif.

Behalwe vir die gebrek aan water, is die rioolstelsel nie werkend nie.

  • “Die watersuiweringswerke funksioneer die afgelope drie jaar nie, wat daartoe lei dat alle riool van Senekal, Matwabeng en Tambo daagliks in die Sandspruit gestort word.”

Die gemeenskap het ’n versoekskrif aan die Vrystaatse departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) oorhandig.

Hierin eis hulle dat Alice Nthateng Maoke, die burgemeester van die Setsoto-munisipaliteit, en Tshepiso Ramakarane, munisipale bestuurder, verantwoordelik gehou moet word vir die disfunksionele en vervalle water- en rioolinfrastruktuur in Matwabeng, Senekal en Tambo.

Hulle eis ook dat stappe in plek gestel moet word om dit te herstel en op te knap.

“Dit is ons reg om in ’n omgewing te bly wat nie skadelik vir ons is nie.

“Dit is die munisipaliteit se grondwetlike plig om voldoende water- en sanitasiedienste te voorsien.”

Mohlolo Nkgome, adjunkdirekteur van Cogta verantwoordelik vir die bestuur van versoekskrifte, het die versoekskrif ontvang en gesê hulle sal ’n taakspan aanwys om daaraan aandag te gee.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.