“Ons weet ons seun is in God se hande,” het Dian Terblanche se ouers gesê oor hul seun wat in ’n kritieke toestand in die hospitaal is weens ernstige brandwonde.
Dian (18), ’n matriekleerling aan die Hoërskool Reitz, het derdegraadse brandwonde oor 85% van sy liggaam opgedoen nadat vlamme hom in ’n veldbrand op hul familieplaas in die Reitz-distrik oorval het.
Volgens sy ouers, Dieter en Riana, is Dian se regterarm Sondag (09/09) geamputeer.
Dian en sy pa was volgens inligting besig om die brand te bestry toe die wind skielik draai en Dian deur die vlamme oorval is. Hy is in die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg opgeneem.
Dieter het ook brandwonde opgedoen en is ook steeds in die hospitaal, maar kan weens sy wonde nie naby Dian toegelaat word nie.
Dieter het aan Vrystaat Nuus/News gesê dit gaan goed met hom onder omstandighede.
“Die gemeenskap moet asseblief vir ons seun bid,” het die ouers gevra.
Dian is sy skool se eersterugbyspankaptein en sou op 1 Oktober op ’n rugbytoer na Ierland gaan.
Die Hoërskool Reitz het Donderdag (06/09) ’n biddiens vir Dian se herstel in die skoolsaal gehou.
Werner Prinsloo, skoolhoof, het aan Netwerk24gesê die ongeluk is ’n geweldige slag vir die skool en gemeenskap.
“Hy is ’n fantastiese en goed gemanierde seun,” het Prinsloo Dian beskryf.
“ ’n Ongelooflike leier, veral as die kaptein van die eerste rugbyspan.”