Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Blywende ink se plek kwyn

Voor die tatoeëersalon het die storiesmous gaan staan. Daar was ’n prent van ’n draak aan die venster en die deur. Elke keer wanneer die deur oopgemaak is, het dit gelyk asof vlamme by die draak se bek uitgespu word.

Die storiesmous het lank staan en kyk. Ek het gewonder of dit die draakbek en bewegende vlamme is wat hom so boei – maar toe hy uiteindelik praat, was dit oor ink.

Ink wat vir altyd bly. Lewenslank.

Soos stories wat hulleself in ’n mens ingraveer. Tot die dag dat jy sterf.

Selfs dan het hulle dikwels op die natrekpapier van die nageslag as vae buitelyne bly voortbestaan.

Nalatenskap.

Hy het my vertel van die jaar toe die ink verdwyn het.

Voor die verdwyning was daar drukkers, koerante en die tekstuur van papier. Tasbaar, ruikbaar – en met elke omblaaislag, ook hoorbaar.

Daardie inkpatrone wat in meer as nulle en ene gepraat het. Bladsye wat letterlik en figuurlik vure kon aansteek.

Toe die ink verdwyn, was daar afsondering.

Tegnologie.

Tablette.

Mense wat staar. Onbewus van mekaar.

Net afgesonderde, inklose swiepende vingers. Teen die lamppale het die stilte geskreeu waar daar eens plakkate was; die stilte het gesmag na die regtrekkrag van stories.

Die vlae van verantwoording was gestryk – en die opskrifte se grafskrifte was geskryf.

Uiteindelik sou die stories hulleself vergeet. In die groot wolk is hulle vergader totdat hulle onverteerbaar te veel geword het.

Die goue eeu van ink was verby.

Uiteindelik sou ’n geslag kom wat nie meer van ink weet nie.

Ek het weer na die draak en die deur gekyk.

’n Man het by die tatoeëersalon uitgestap. Daar was letters aan sy arm. Die storiesmous het gesê dit is ’n gedig.

Ek was bang om dom te klink, maar ek moes weet. Ek wou so graag verstaan.

Ná ’n oomblik van aarseling het ek moed bymekaargeskraap.

“Wat is ’n gedig?”

Daar was ’n hartseer trek om sy mond.

Van die venster het die draak weerkaats; maar die deur was oop; die vlam was weg.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.