Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Boer op haar plaas vermoor

“My ma is dood waar en waarvoor sy geleef het. Boer en plaas was in haar bloed.”

Só sê Alana Koen, jongste dogter van Mienie Frost (72), wat Vrydagaand (06/09) op haar plaas buite Bethlehem vermoor is.

Frost, ’n varkboer van die plaas Tamboekiesbank, se lyk is Saterdagoggend (07/09) naby ’n begraafplaas in Bethlehem gevind.

Sy is vermoedelik tussen 20:00 en 22:00 deur ’n voormalige werknemer met ’n stomp voorwerp dood­geslaan. Haar lyk is daarna in ’n stormwaterpyp tussen die Utopia-begraafplaas en die skou­terrein versteek.

Sello Moeti (42) is Vrydagaand aangekeer nadat hy met die vermoorde Frost se bakkie gewaar is. Hy het Maandag (09/09) vlugtig in die hof verskyn. Hy sal Maandag (16/09) weer in die hof verskyn vir sy aansoek om borgtog. Hy bly in aanhouding.

Moeti is die seun van ’n voor­malige werker en het self in ’n stadium vir Frost gewerk.

’n Ander voor­malige werknemer van Frost het agterdogtig geraak toe hy sien die man gooi laatnag petrol in Frost se bakkie. Hy het die polisie ingelig.

“Ek het net geweet dis miesies se kar,” sê hy.

Hy het jare lank op die plaas gewerk.

“Sy (Frost) het my help grootmaak. Ek het so baie by haar geleer.

“Sy het my geleer hoe om met varke en hoenders te werk. Sy het my met kennis gehelp, maar ook met my familie. Sy het baie mooi na ons almal gekyk.”

Herkie Viljoen, voorsitter van die Bethlehem-beheerkamer, het aan Netwerk24 gesê Frost, wat alleen geboer het, is vermoedelik by die varkhokke oorval. Haar vuurwapen en flits is daar gevind.

“Sy het moontlik gaan kyk na een van haar varke wat kleintjies gekry het.”

Ben Jacobs, Koen se verloofde, sê Frost het ’n helper op die buurplaas gaan aflaai wat haar met die varke gehelp het.

“Ons vermoed die verdagte het haar ingewag toe sy by die huis kom,” sê Jacobs.

’n Grootskaalse soektog is begin toe die polisie Frost nie kon opspoor nie.

Volgens Viljoen is Frost se bure na haar plaas waar hulle die huis gesluit aangetref het. Die ligte het egter gebrand.

Later is die vuurwapen en flits gevind. ’n Yster, wat vermoedelik die moordwapen kan wees, en handskoene is op die toneel gevind.

Frost se oupagrootjie is ook jare gelede op dié plaas vermoor.

  • Frost se begrafnisdiens vind Vrydag (13/09) om 11:00 in die NG kerk Bethlehem-Wes plaas.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.