Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Bou land met goeie stories

Ons is honger. Honger vir goeie stories van goeie mense.

Ons is sat om te hoor van hoe die boewe ons elektrisiteit, belasting en goedertrou steel. Ons is pap­geslaan deur die korrupte regeringstermyn van die twietende swembadsitter van Nkandla. Ons is verby Ramaforia en ons kyk na die rooi-oorpakbrigade in die parlement wat tienerlik jil terwyl die VBS-bank net nog ’n statistiek word.

In die aanloop tot die verkiesing beloof die huidige regering dat hy nooit weer die foute van die verlede sal herhaal nie; en ons wil verstik, want ons weet dit is alles leuens.

En dan tel ’n student stilswyend rommel op wat uit ’n asblik geslinger word. En dit word ’n storie van hoop.

Hoe sleg moet dit al met ons gaan dat ons hoop put uit iets wat elkeen van ons veronderstel is om te doen? Wat het van ons geword? Is ons so magteloos teen die aanslae van skarminkels?

As die water vrot, gaan koop ons maar. As die beurtkrag inskop, sug ons maar. As die parlement baklei, glimlag ons maar. As die misdaad dit onhoudbaar maak, emigreer ons maar.

Wie is ons? Ons is die mense van die land. Mense van alle kleure en kulture wat van krummels probeer brood maak, maar êrens vergeet het hoe die brood moet lyk. Nou eet ons maar die krummels en wag op die dag dat die regering tot inkeer kom, of dalk dat ’n ander land ’n skip stuur om ons te red.

Dan en wan vlieg iemand na elders om te vertel hoe sleg dit met ons gaan. Tog, wanneer ons hoor van oorloë, onlus en moord in ander lande, skeel dit ons min. So, waarom dink ons dat iemand skielik elders gaan wakker word en ons kom red?

Nee. Daar is geen skip of reddingsboot oppad nie. As ons hierdie land wil verander, moet goeie stories seëvier. Oor rasse en klasse heen smag ons na stories van hoop. Dalk is dit tyd om op te hou wens en te begin doen?

Wat het jy vandag gedoen om ons land ’n beter plek te maak? Hoe lyk die rommel in jou straat vandag? Ons hoef nie te wag dat iemand asblikke omkeer voordat ons begin skoonmaak nie?

Die beste manier om ons honger vir goeie stories te stil, is om hulle te skryf –woord vir woord, daad vir daad, mens vir mens, dag vir dag.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.