Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Brande te verwagte

Ondanks ’n geweldige toename vanjaar in veldbrande in die Vrystaat, en dat dit die provinsie is met die meeste veldbrande waarop Werk met Vuur (WoF) gereageer het, kan dit nog nie as ’n amptelike ramp beskou word nie.

Johann Breytenbach van die Vrystaatse Brandbeskermingsvereniging (FSUFPA) sê daar was vanjaar nog nie rampspoedige veldbrande in die provinsie nie en die toename is normaal ná ’n droogte.

Die FSUFPA se syfers vir byvoorbeeld Junie dui op ’n toename van 1 925,52% in afsonderlike brande, in vergelyking met die brande in dieselfde tyd verlede jaar.

Daar was ook ’n styging van 434,21% vanjaar wat die algehele oppervlak wat in Junie gebrand het, betref.

Breytenbach sê hoewel dié toename erg klink, moet in ag geneem word dat die brande in semi-stedelike gebiede vanjaar vir die eerste keer by die syfers ingereken is.

Ná ’n goeie reënseisoen is daar ook meer veld wat kan brand.

“Die veld het eers verlede jaar herstel. Dit is die eerste goeie groeiseisoen ná die droogte waarin ons hierdie brandseisoen het.

“Sodra die eerste goeie reënval die veld laat herstel, is daar meer brande – daar is meer goed wat kan brand.

“In vergelyking met verlede jaar se syfers is daar hierdie verskriklike verhoging, maar dit is nie abnormaal teenoor die gemiddelde syfers vir die afgelope tien of 12 jaar nie.”

Wat die syfers tot Augustus betref, sê Breytenbach, is hy nog nie bekommerd nie.

“Ons het nog nie rampspoedige brande gehad waaroor ons kan sê dat groot dele van ’n distrik afgebrand het nie.”

Volgens sy syfers was die grootste enkele brand tot dusver oor 6 000 ha.

Hoewel daar wel brande was wat rampspoedig vir ’n enkele boerdery kon wees, was daar tot dusver nie brande wat per definisie as ’n ramp kwalifiseer nie.

Dit is omdat die brandvoorvalle wat tot op hede plaasgevind het, nie die vermoë van ’n gemeenskap weggeneem het om sonder eksterne hulp die ekonomiese, menslike, materiële of ekologiese effek van ’n brand te oorkom nie, sê hy.

Die piek van die brandseisoen in die provinsie is Augustus, September en Oktober.

“Dit lyk vir my die vroeë reën wat ons gaan kry, sal ’n behoorlike afname in brande in Oktober tot gevolg hê.”

Volgens Wayne Mokhethi, Vrystaatse provinsiale woordvoerder van die WoF, het die Vrystaatse tak van dié organisasie vanjaar op die meeste veldbrande gereageer.

WoF het reeds tot Augustus op 468 brande in die Vrystaat gereageer, wat op 36 692,53 ha gebrand het, sê Mokhethi.

Hy sê die WoF het nog 64 brandbestryders in die provinsie aangestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.