Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dié drie kleurige boombuksies sal­

Geelkeurboom (Calpurnia aurea)

Die geelkeurboom, wat in Engels as die wild laburnum bekend staan, is ’n groot struik of klein immergroen boompie wat 3 m tot 4 m hoog word. In ’n natuurlike habitat is dit ’n woudboom wat in die skaduwee van ander bosreuse groei, maar in tuine bereik dit heel vinnig ’n mensvriendelike grootte met ’n ligte kroon en ’n karaktervolle groeiwyse.

Dit groei ewe gaaf in volson as in die ligte skadu van ander plante, en is taamlik bestand teen koue en ryp.

Omdat dit van nature veelstammig is, is ’n bietjie snoeiwerk en leiding noodsaaklik om ’n mooi boomvorm te skep. Die blare is smaraggroen en saamgestel in pare aan blaarstele van sowat 20 cm lank wat terugvou en neerhangend is.

Die bome begin reeds in ’n baie jong stadium van Augustus en deur die somermaande hul heldergeel ertjie-agtige blomtrosse maak.

In die Wes-Kaap, met sy warm somers en winterreën, kan die bome eerder mooi in die herfs blom. Papieragtige saadpeule volg die blomme op.

Die boompies se ander voordele is dat dit taamlik droogtebestand is wanneer dit goed gevestig is en ook in groot houers kan groei.

Daarom kan ’n mens hulle met vertroue in ’n plek soos ’n binne­hof-tuin plant, waar hulle hoogte en skadu kan verskaf.

Kannabas (Dais cotinifolia)

Dié boom het ’n perfekte grootte en groeistyl vir ’n klein meenthuistuin. Die grootte in optimale groeiplekke – soos ’n natuurlike habitat op die rande van ’n woud of tussen digte bosse naby ’n rivier – kan tot 13 m hoog wees, maar in voorstedelike gebiede waar toestande strawwer is, word dit nie sommer groter as 6 m x 5 m nie. Hulle is meestal kleiner. Die kroon is rond, die blare is blougroen en die bas is grysbruin.

Gedurende sy skouspelagtige blomtyd, wat ongeveer twee weke duur, word die boom oortrek met ’n massa ligte perspienk blomhofies wat soos pom-pons lyk.

Dit is ’n vinnige groeier en blom reeds van ’n baie jong stadium af. Dit is ideaal as eksemplaarbome, of om op die agtergrond van struikbeddings te plant. Dit is perfek vir ’n kothuistuinstyl. Die pragtige blomme verskyn van November tot Februarie.

Die klimaat bepaal gewoonlik of die boom immergroen of bladwisselend is. Hulle is perfek vir gematigde klimate in somer- én winterreënstreke.

Dit is nie bestand teen stormwinde teenaan die kus nie, en plant hulle daar maar liefs beskut teen wind. Hulle sal ’n redelike mate van ryp en koue verduur. Plantplekke is volson of in ligte skadu.

Die wortelstelsel is nie aggressief nie en die boom kan na aan plaveisel en grensmure geplant word – laat egter ruimte toe vir die kroon om te ontwikkel.

Lei jong bome gereeld nat. Gevestigde bome is middelmatige waterverbruikers.

Kannabasse is lief om laag te vertak en soms ook meerstammig te groei. Om ’n mooi boomvorm te kry, kies een stewige hoofstam en verwyder ander groei wat laag uitloop.

Witpeer (Apodytes dimidiata)

Dié is ’n immergroenboom wat gereeld gesnoei kan word om ’n digter en slanke vorm te behou.

Die blare is glansend en heldergroen met ’n dowwe bleekgroen onderkant. Die bas is glad en liggrys, en ’n massa geurige wit blommetjies verskyn van September tot April.

Al word die boom oortrek met trosse swart bessies met bloedrooi uitgroeisels – waarvoor die voëls baie lief is – is dit nie ’n morsige boom nie, Dit kan dus taamlik na aan ’n swembad of ander bousel geplant word.

Wat klimaat betref, is die witpeer goed vir gematigde dele, hoewel dit ook ligte ryp, wind, koue en nat winters verduur.

Bronne verskil oor die grootte, maar ongeveer 5 m x 4 m buite hul natuurlike woudhabitat blyk die norm te wees.

Die boom groei stadig, maar die groeitempo kan met gereelde water en misstof aangejaag word.

Wenke vir goeie boomgroei:

  • Kies by die kwekery ’n boompie wat regop en gesond groei.
  • Berei die plantgat goed voor met volop kompos en ’n groot handvol beenmeel.
  • Plant eers twee stewige stutstokke en kap hulle diep in, waarna jy die boom op dieselfde diepte as wat dit in die kwekerysakkie is, plant.
  • Stut die hoofstam aan die stutstokke met ’n ou sykous of sagte boomstutmateriaal, wat by kwekerye te koop is, in die vorm van ’n ontspanne lus.
  • Vorm ’n gronddammetjie nadat die gat toegegooi is en gee diep water.

Herkou hieraan

Al drie is pragtige en taai inheemse bome wat maklik is om te kweek. Hulle sal wel beter vaar as hulle gereeld diep water kry, asook ’n dosis algemene misstof in die lente. – Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.