Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Dinamiese vrou laat leemte
Dini Pretorius (90) van Kroonstad is op 24 Oktober oorlede.

’n Geliefde predikantsvrou van Kroonstad is op 24 Oktober in die ouderdom van 90 jaar oorlede.

Dini Pretorius, wat ’n nooi Goote was, het as agtjarige saam met haar ouers van Holland na Suid-Afrika immigreer.

Ná matriek het sy haar graad in maatskaplike werk aan die Universiteit van Pretoria (UP) behaal.

Dini het ’n gawe gehad om met kinders te werk, en dit is juis in die tyd dat sy by die Abraham Kriel-kinderhuis gewerk het dat sy haar man, ds. Peet Pretorius, ontmoet het.

Hy is in 2016 dood.

Die egpaar was 52 jaar getroud en het diep spore in die Kroonstad-gemeenskap gelaat.

Dié dorp se kinderkrans-kinders sal Pretorius onthou as die tannie wat met haar flenniebord die mooiste Bybelverhale vertel het.

Danksy haar leierskap het die vroue van die NG kerk Môrewag saam verskeie hoogtes in die gemeente bereik.

Sy het ook talle mense se lewe aangeraak deur deeltyds maatskaplike werk by Families Suid-Afrika se tak in Brentpark, Kroonstad, te doen.

As diep gelowige vrou het sy ’n goeie voorbeeld vir almal gestel.

Pretorius het verskeie stokperdjies beoefen. Afgesien van skilderwerk het sy graag legkaarte gebou, juwele gemaak en kralewerk gedoen.

Haar vyf dogters spog elkeen met ’n tafeldoek wat sy met kruissteke borduur het.

“My ma het ’n dinamiese persoonlikheid gehad en haar plek as pastorievrou vol gestaan,” sê haar dogter Heleen Saaiman.

“Sy het gehore aangegryp met haar toesprake en praatjies, hetsy oor geloof, godsdiens, naastediens of geslagsvoorligting.”

Haar kinders onthou haar as ’n sterk, gelowige ma wat – ondanks ’n besige gemeentelewe – altyd vir hulle tyd gehad het. Sy het klem op hul geestelike opvoeding gelê en hulle aangespoor om dinge met ewigheidswaarde te koester.

As ouma was Pretorius ’n storieverteller van formaat. Sy het ook graag haar liefde vir musiek en sang met haar kleinkinders gedeel.

Haar teraardebestelling het op Saterdag 31 Oktober op die familieplaas Soetvlei-Oos plaasgevind, waarna ’n dankdiens ter ere van haar lewe in die NG kerk Kroonstad-Oos gehou is.

Pretorius word deur haar dogters, Ronell Leonard, Heleen Saaiman, Dini Prinsloo, Annemarie Pretorius en Petra Pieters, tien kleinkinders en sewe agterkleinkinders oorleef.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.