Ondernemings is reeds in rep en roer om voor te berei vir vanjaar se Swart Vrydag-winskopies.
Vrydag (29/11) is die dag waarop winkels talle spesiale aanbiedinge op hul produkte het.
Die kombinasie van die woorde “korting” en “Swart Vrydag” kan baie mense laat kop verloor.
Die gebruik om op dié dag winskopies te bied het glo in Amerika ontstaan, waar die dag ná die Dankseggingsdag-feesvieringe as die amptelike begin van die tyd vir Kers-aankope beskou word.
Die naam “Swart Vrydag” kom glo van die gedagte dat winkels wat “in die rooi” is, van hierdie dag af weer “in die swart” kan kom. Wanneer ondernemings “in die swart” is, maak hulle ’n wins.
SMS’e, pamflette en e-posse van winkels word versprei wat noem dat hulle hul ware teen ’n spesiale prys gaan verkoop.
Kenners maan dat skuld-oorlaaide verbruikers deeglik moet besin voordat hulle hulself op Swart Vrydag dieper in die verknorsing laat beland deur ’n klomp geld wat hulle nie het nie aan luukses te verkwis.
Verbruikers word ook gemaan om nie blindelings die winkels in te vaar en onnodige artikels te koop of roekeloos te bestee nie.
Indien dit jou hart vinniger laat klop om winskopies op te spoor is die winkels Vrydag die plek vir jou.
As jy dit nie geniet om ure lank in rye te staan nie en inkopies eerder as ontspanning ag, sal dit die beste wees om op dié dag met ’n koppie tee agteroor te sit.