Verskeie Oos-Vrystaatse dorpe ondervind ernstige waterprobleme.
Dit wil egter voorkom asof dit nie al probleem is wat inwoners van Paul Roux moet trotseer nie.
Met beurtkrag sit dié dorp se inwoners nie net kort-kort in donker gehul nie, die dorp se reservoir het ook heeltemal leeggeloop.
Paul Roux kry met ’n pyplyn water van Bethlehem, maar in tye van beurtkrag kan water egter nie in die reservoirs in Bethlehem gepomp word nie.
Die gevolg is dat die reservoir in Paul Roux een van die eerstes is om leeg te loop.
Luidens ’n verklaring wat Saterdag (08/02) deur die Dihlabeng-munisipaliteit uitgereik is, het ’n elektriese paneel Saterdagoggend vroeg oorstroom.
Dit het veroorsaak dat een van die pompe nie water na die reservoirs kon pomp nie. Weens beurtkrag was die reservoirs egter reeds amper leeg.
Onderdele om die pomp te herstel kon eers Maandag (10/02) van Johannesburg af kom, waarna herstelwerk begin het.
Inwoners is versoek om water spaarsamig te gebruik.
Verder is hulle genoop om Paul Roux se inwoners het verder ook vir dae aaneen sonder ’n Vodacom- en Telkomsein klaar te kom.
Luidens ’n verklaring van Telkom is ’n ooreenkoms met Vodacom bereik om van dié se sein gebruik te maak.
Telkom-kliënte moes onlangs hul ou telefone vir koordlose fone inruil, vandaar die ooreenkoms met Vodacom.
Luidens ’n verklaring van Vodacom word probleme weens beurtkrag oor die land heen ondervind.
In sekere gevalle het rugsteun-batterye ingeskop, maar die batterye kan net vir ’n sekere tyd hou. Vodacom het begin om kragopwekkers te gebruik om te voorkom dat kliënte sein verloor.
Vrystaat Nuus/News het intussen verneem daar is fout by die een toring, sowat 10 km vanaf Paul Roux in die rigting van Senekal.
Tegnici het Maandag herstelwerk begin en Vodacom-gebruikers word versoek om geduldig te wees.