Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Eierdop in kolwyntjie laat jou kies

Plotseling. Soms smaak ’n woord so lekker dat ’n mens nie die versoeking kan weerstaan om dit hardop te lees, of herhaaldelik te sê nie. So drie, vier, vyf keer, totdat dit daardie vreemde grens oorsteek wat ’n heel bekende woord met elke herhaling al hoe minder laat sin maak.

Dis nogal belangrik om op te merk dat so ’n lekkersmakery nie noodwendig beteken dat hy soet proe nie. Plotseling is bitter.

Saam met vrank en pikant word bitter nogal onnodig stief behandel. Dis nou die vrankheid wat gewoonlik daardie vae beskrywing van “droog” toegedig word – dink aan witwyn of ongebakte kweper.

Die internet lê vol video’s van babas wat iets soos suurlemoen gegee word, sodat kykers hulle kan verlekker in die skattige reaksies van dié eerste kennismaking met soet se immergewilde teenpool.

Dit sou die mensdom dalk baat om ewe veel aandag aan die verkenning van, byvoorbeeld, bitter te gee. Sou ons miskien beter voorbereid kon wees op die aanslae van die lewe as ons in die letterlike sin nie dit vermy het wat ons in die figuurlike sin knou nie?

Daar bevind ons onsself toe plotseling in ’n pandemie (ai, hoe pikant proe daardie alliterasie nie).

Ons voel nou al byna ’n jaar lank hoe ons gesig teen wil en dank vertrek weens die prikkels van nare verrassing op die nuwe struikelblok. Wat as ons destyds met net soveel afwagting ’n korrel kitskoffie op die tong gegee is?

Goed, alle ligsinnige spekulasie op ’n stokkie: Terwyl ons na die onmiddellike toekoms kyk, staan elkeen van ons met ’n groot hap koekverkoping-kolwyntjie in die mond. Jy het daardie stuk eierdop raakgebyt wat jou seuntjie se maatjie se ma met die gejaagde middernagbaksessie in die beslag laat beland het. Dis nou juis met haar dat jy staan en gesels, so jy moet besluit: Kou jy heel Stoïsyns daardeur sonder om ’n oog te knip, of spoeg jy uit?

So asof dit nie erg genoeg is dat die ontnugtering van ons omstandighede ’n verleentheid is nie, is dit swaar om te kies hoe ’n mens daarop reageer. Dít terwyl dit voel asof die wêreld toekyk.

Die feit bly staan dat dit jou keuse is. Nog meer as dit: Jy móét kies. Geen mens kan die res van hul lewe met ’n mondvol bekommernis of berou staan nie.

Só dwing die lewe ons vorentoe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.