Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Elke verlore storie betreur

Daar waar die wind soms boomtak­besems maak wat blaarskaduwees oor die geelblaarvloer laat dans; dit is daar waar die storiesmous soms sit om die inventaris in die bladsye van sy leergebinde joernaal te bêre.

Elke dan en wan is daar ’n prys­verskuiwing. Somtyds, wanneer ’n goeie verteller ’n ligtewoord-storie opneem en die wêreld instuur, verhoog die waarde van die storie.

Ander kere werk dit andersom: ’n verteller wat ’n wonderwoord-storie onverteld laat. Onontginde potensiaal­stories wat hul inkblywendheid verloor en doodgewone desperate doellose stories word.

Die storiesmous dink dikwels oor vertellers. Soms wonder hy waarom vertellers so belangeloos voorlees aan hul eie stories. Dis asof hulle wag vir iets of iemand om die storie te kom haal en beter te vertel; asof hulle nie die groot geheim van stories ken nie – dat elke verteller een besondere storie het wat net hulle kan vertel.

En tog, soveel vertellers probeer hul lewe lank om iemand anders se storie te vertel. Om die een of ander rede dink hulle dat dit beter is; en dan eindig hul eie stories goedkoop en uitverkoop tussen die bladsye wat gebêre word om somtyds nooit weer oopgemaak te word nie, maar net daar te bly: woordeloos, betekenisloos en vertellerloos.

Ek was gelukkig om vir een son­wenteling as vakleerling by die storiesmous te werk. Hier het ek soms gesien hoe hy sy kop laat sak wanneer hy ’n storie se prys moes verminder.

Op die slegste dae moes ’n storie afgeskryf word. Dan het die storiesmous se hande lank getalm, het hy soms gesug en ver gekyk – na daar waar die jakkalse soms soggens in die veld getjankskreeu het.

Die stilte was soms ongemaklik; maar ook ek het nie woorde gehad nie.

Want dis net so hartseer as ’n storie verlore gaan.

En al die potensiaal tussen boomtakbesems en blaarskaduwees verdwyn.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.