Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Geldverlies verswyg

Daar word beraam dat vee ter waarde van sowat R7,6 miljoen in 227 voorvalle in die eerste agt maande van die jaar in die Dihlabeng-gebied gesteel is.

Dít is volgens die Bethlehem-beheer­kamer se statistieke wat betrokke is by die misdaadvoorkoming in die Dihlabeng-gebied, wat Bethlehem, Clarens, Kestell, Fouriesburg, Lindley en Paul Roux insluit.

Heilbron se beheerkamer het in die ooreenstemmende tyd sowat R3,9 miljoen se verliese weens veediefstal aangemeld.

Boere daar het in 62 aangemelde voorvalle ’n gemiddelde verlies van R36 709 gely.

Volgens statistieke wat deur twee beheerkamers in Heilbron en Bethlehem aan Vrystaat Nuus/News beskikbaar gestel is, word gemiddeld R33 500 se vee op ’n slag gesteel.

Die polisie hou net boek van die aantal voorvalle, maar nie van die geldwaarde of aantal vee wat per diefstal gesteel word nie.

In die meeste gevalle slaag boere daarin om sowat 40% van vee in die Heilbron-gebied terug te kry.

In die meer bergagtige Bethlehem-gebied is die opsporingsyfer ná veediefstalle 28%.

Verder is twee dorpe in die Oos-Vrystaat – Harrismith en Bethlehem – twee van die gebiede in die Vrystaat wat, volgens die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se statistieke vir die 2018/’19-boekjaar, die ergste onder veediefstal deurgeloop het.

Boonop is dié twee polisiekantore ook onder die voorste 30 in die land wat veediefstal betref.

Bethlehem het ’n toename van vyf sake (4,17%) beleef wanneer dit met die vorige jaar vergelyk word.

Verder het Harrismith ’n toename van 17 sake (8,7%) gehad.

Volgens dr. Jane Buys, veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), word landbouers weer versoek om alle inligting oor veediefstal, asook aangemelde sake, aan hul onderskeie veiligheidsverteenwoordigers van landbouverenigings of gebiedskantore deur te gee sodat dit deel van VL en VKB se veiligheidslessenaar se inligting kan uitmaak.

“Landbouers moet ook verseker dat hulle ’n veeregister byhou, hul diere van ’n jong ouderdom af gebrandmerk of getatoeëer is, hulle oor ’n brandmerk-registrasiesertifikaat beskik, hul kontakbesonderhede en brandmerke by die Registrateur van Brandmerke bevestig en dat hulle deel van georganiseerde landboustrukture in hul gebied vorm,” sê Buys.

Sy meen die kommunikasie of deurgee van inligting is belangrik om veediefstal voorkomend aan te pak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.