Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Honde vergiftig

Bethlehemiete word aangeraai om hul honde in die huis te laat slaap nadat verskeie gevalle reeds in Junie voorgekom het waar honde vergiftig is.

Só sê dr. Piet Louw, ’n veearts in Bethlehem.

Jurgens Exley van Wulf Alarms sê dit blyk of daar voertuigdiefstal of pogings daartoe is in die omgewing waar honde vergiftig word.

Diefstal word nie noodwendig by die huis beplan waar die honde vergiftig word nie, meen Exley.

“Ons vermoed die diewe loop in die aande in die straat af en kyk watter honde blaf.”

Voertuie wat gesteel word, word in die straat afgestoot en verder weg aangeskakel.

In die meeste gevalle word vergiftigde vleis vir die honde oor die heining gegooi. Die middels wat die meeste gebruik word, is pesdoders soos Temik, sê Louw.

Frans Kok van Bethlehem-Wes sê sy skaaphond, Max, is Woensdagaand (05/06) tussen 17:45 en 18:30 vermoedelik vergiftig.

“Ek het 17:45 by die huis gekom en toe was hy nog lewend en spelerig. Toe ek 18:30 by die huis uitloop, het hy dood in die hoekie gelê.”

Kok het later die aand ’n botterbakkie met uitgedroogde maalvleis buite die hek sien lê.

Antoinette Truter van Panorama se mopshond, Lady, is Dinsdag 28 Mei vergiftig. Lady het twee weke voor haar dood kleintjies gekry, wat nou op ’n ander manier versorg moet word.

“Ek het haar onder die bed gekry waar sy opgeblaas was en skuim by haar neus uitgekom het. Ek het die veearts gebel en dit is glo tekens van vergiftiging,” sê Truter.

Twee van Peet van der Merwe se honde is verlede week in Panorama vergiftig. Sy skaaphond, Gita, en Jack Russell, Wifi, het glo aan ’n Russiese worsie geëet wat gif bevat het. Volgens Van der Merwe is sy bure skuins oorkant hom se bakkie daarna gesteel en hul hond is ook vergiftig.

Louw sê gevalle van hondevergiftiging is by hom aangemeld en sommige honde kon behandel word. Hy sê simptome van vergiftiging is speekselvloei, diarree en spierrukkings.

“Die liggaamshitte van die dier bou op en die dier kan nie hyg nie, want die longe is vol vog. My raad is dat die dier moet koel bly. Moenie die dier in ’n handdoek of kombers toedraai nie.”

Louw sê dit is ook belangrik om nie die dier aan eksterne stimulasies soos geraas bloot te stel nie.

“Hou jou veearts se nommer op spoedskakel, want minute kan ’n verskil maak om die hond te red. Hoe vroeër ’n mens dit kan teenwerk, hoe beter is die prognose.”

Corlene van der Merwe, voorsitter van die DBV-komitee in Bethlehem, sê dit is noodsaaklik dat gevalle van hondevergiftiging by hulle aangemeld word.

“Ons moet die getalle aan die nasionale DBV deurgee om statistiek hiervan te hou,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.