Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hou aan bou

Dit is ’n reuse-uitdaging. Moet ons vergeet of moet ons onthou? Moet ons vergewe of moet ons beskuldig? Moet ons droom of moet ons emigreer? Wie is ons? Afrikane? Suid-Afrikaners?

Dié vrae hommel in my agterkop terwyl ek deur die koerant blaai.

As Suid-Afrikaners is die verlede vir ons soms ’n warm patat, ander kere ’n slaansak en soms ’n rede vir amnesie.

En tussen skuldgevoelens, kwade gevoelens, gevoelloosheid en gevoeligheid deur voel-voel ons oor kleur-, kultuur- en karaktergrense heen na oplossings om ons teen die onsekerheid van die toekoms te beskerm.

Onseker. Mag ek sonder skuld­gevoelens deur die fotoalbums van my jeug blaai?

Mag ek smag na tye toe ons saam met maats langs Loch Athlone kon gaan tentkampeer sonder vrees om vermoor te word?

Is dit geoorloof om te dink Bethlehem se ou biblioteek was ’n wonderlike plek waar ek boeke kon uitneem en my horisonne verbreed?

Was dit verkeerd om Saterdae teen geringe betaling in die munisipale swembad te swem? Wat van Saterdae se krieket in Wessels­park?

In dieselfde verlede, met een teerstraat as skeiding, was daar die township-skole waar leerlinge self moes betaal vir hul boeke.

Daar was geen buitemuurse afrigting nie. Selfs in Bethlehem was daar vrees vir halssnoermoorde. Daar was Mpho en Setei wat moes plaasskool toe. Daar was PW Botha op die televisie. Daar was rebelletoere maar geen wêreldbekers nie.

En vandag?

Ek lees hoe munisipale geld verkwis word. Ek sien hoe biblioteke van begrotings ontneem word weens wanbesteding. Ek neem foto’s in plattelandse dorpies waar munisipale swembaddens in vullisterreine omskep is.

Die potensiaal wat daar was, is almal ontneem. Álmal: Bruin, Swart en Wit. Arm en ryk. Kerkvas, kerklos en kerkloos.

En noudat ons almal alles ontneem is, moet ons bou op die verlede; maar die sement en stene verbrokkel in ons hande.

Elke bouer werk van ’n plan af. ’n Bloudruk vir sukses. ’n Visie.

Dit is net jammer dat ons politieke bestel argitekloos is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.