Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Hou tuin só in jou afwesigheid aan die gang

Bekommer jy jou oor wie in die vakansie na jou tuin sal omsien? Wees gerus, daar is maniere om jou tuin aan die gang te hou terwyl jy weg is.

Die grootste uitdaging vir ’n Desember-tuin is om die hitte en vakansie te oorleef, aangesien ons vir die see, son en gesinstyd saam van die huis af moet weggaan.

Desember is die hoogtepunt van die groeiseisoen, veral vir groente (en onkruid). Rose maak gereed om weer te blom, en houerplante floreer. Dit is moeilik om te vertrek sonder om te wonder hoe jou tuin gaan lyk wanneer jy terugkom.

Hier is ’n paar voorstelle vir wat om te doen voordat jy met vakansie gaan.

) Gee aandag aan basiese onderhoud

Gooi ’n deklaag in jou blom- en groentebedding, bedek kaal grond met ’n 2 cm tot 5 cm laag droë blare, grondboontjiedoppe, of basskyfies. ’n Ligkleurige deklaag weerspieël die hitte weg van die beddings.

  • In baie warm weer help ’n deklaag om plante klam te hou met net een goeie, diep natmaak per week. As jy outomatiese besproeiing het, kyk vir verstopte spuitkoppe en maak seker dat die stelsel reg ingestel is. As jy baie houers het, oorweeg dit om die stelsel uit te brei. Trek onkruid uit – dit verminder die mededinging vir water.

Beskerm groente van direkte middagson met ’n bedekking van tot 70% skadu. ’n Tydelike raamwerk kan gemaak word deur pale in elke hoek van die bedding te druk, ’n skadu-lap daaroor te drapeer en dit met penne vas te maak. Moenie die tuin, die rose of die grasperk bemes nie. Jy wil nie groei aanmoedig nie, want dit verg dan meer water.

) Sorg vir plante in houers

Die grootste bekommernis is die oorlewing van plante in houers.

Wanneer temperature hoog is, moet die meeste plante, en veral rose, elke dag natgemaak word.

As die potte en hangmandjies een of twee keer per week natgemaak word, skuif dit uit die direkte son na ’n koeler plek. As daar ruimte in die tuin is, sink die potte in die grond, in ’n skaduplek. As dit nie moontlik is om die houers te skuif nie, plaas dit op pierings of borde wat met gruis gevul is, sodat water nie weg dreineer nie.

Die meng van waterhoudende produkte soos Swell Gel in die potgrond sal help en kan kombineer word met die strategie om borde onder die houers te plaas.

’n Wenk van rooskweker Ludwig Taschner is om die Terra Sorb- of Swell Gel-poeier in water te gooi en te wag totdat dit ’n dik sop word. Maak ’n paar gate met ’n besemstok, sowat 20 cm diep, en gooi die mengsel in die gate. Maak die bedding goed nat voordat jy weggaan sodat water stadig aan die wortels vrygestel word.

) ’n Pit-waterstelsel

Dit is ’n opsie vir groter binnens­huise, of selfs buite-plante, wat moeilik is om te beweeg.

Maak ’n pit (soos vir ’n kers) uit enige waterabsorberende materiaal. Vul ’n emmer met water. ’n Enkel emmer, as dit groot genoeg is, kan baie plante dien. Hoe groter die emmer, hoe langer sal dit die plante natmaak.

Plaas een kant van die pit in die water – maak seker dat dit tot onder in die emmer gaan.

Sit die ander kant van die pit (wat klam moet wees) in die potplant, en maak seker dat jy dit sowat 10 cm diep in die potgrond sink. Vir groot potte is dit ’n goeie idee om twee pitte te gebruik. Soos die grond uitdroog, trek dit die water in die grond in.

Toets dit voordat jy vertrek om seker te maak dit werk.

) Spesiale behandeling vir rose

Om te keer dat jou rose blom terwyl jy weg is, knyp al die knoppies saam met twee of drie blare af. Knyp die hoofknop van elke jong uitloopsel af. Dit vertraag die bloeiproses en verminder die behoefte aan water.

Voordat jy vertrek, spuit die rose met Chronos om swartvlek te voorkom. Dit bied beskerming vir tot ’n maand.

Kyk na die grond rondom die rose. Harde, kompakte grond keer dat water na wortelvlak deursypel. Spit baie growwe organiese materiaal in en maak goed nat.

– Alice Coetzee

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.