Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Juffrou laat die speke les opsê
Tanya van Niekerk (36) tydens die jaarlikse Race to the Sun-bergfietswedren wat oor 167 km strek. Sy het ’n 9de plek in die vroue-afdeling behaal.Foto: verskaf
Hier is Tanya van Niekerk (36) voor in aksie op haar fiets, tydens die jaarlikse Race to the Sun wat oor 160 km gestrek het. Foto:

’n Onderwyser van Bethlehem het vanjaar reeds 9 490 km op haar bergfiets afgelê.

Tanya van Niekerk (36), ’n kranige bergfietsryer en onderwyser aan die Laerskool Jordania, oefen vier tot vyf keer per week. In die vier jaar wat sy dié sportsoort beoefen, het sy al 29 236 km getrap.

“Ek is mal daaroor om aan bergfietswedrenne deel te neem, en geniet veral uithouritte wat baie deursettingsvermoë en stamina vereis,” sê Van Niekerk.

Die verste wat sy nog op een dag gery het, is die 315 km wat sy vir die Trans Xhariep-bergwedren moes aanpak. Sy het die tweede plek behaal.

Haar grootste prestasie was in die Race to the Sun-wedren wat op 3 Oktober plaasgevind het. In dié wedren, wat oor 167 km gestrek het en 1 000 deelnemers gehad het, het Van Niekerk ’n 9de plek in die vroue-afdeling verwerf.

Omdat sy hierdie prestasie teen talle professionele fietsryers kon vermag, beskou sy dit as haar beste wedren.

Sy het ook onlangs aan die R60-berg­fietswedren deelgeneem wat deur Bethlehem-Tafelronde 60 aangebied is.

Hier het sy selfs stof in die mans se oë geskop om die algehele eerste plek te behaal.

Van Niekerk word afgerig deur haar pa, Carel Pretorius, wat self ’n kranige fietsryer is.

Sy beoog om in die toekoms nog meer mee te ding, en het onlangs vir haarself ’n padfiets aangeskaf sodat sy ook aan padfietswedrenne kan deelneem.

Sy oefen nou vir die Bielie-Mielie-bergfietswedren, wat van 13 tot 15 November plaasvind. Dit is vroeër vanjaar weens Covid-19 uitgestel. Die wedren beslaan verskillende fases wat oor drie dae strek.

Dan maak sy ook gereed vir die jaarlikse Kersiefees-bergfietswedren in Ficksburg, waarvan sy die afgelope twee jaar die vroue-afdeling gewen het.

Van Niekerk sien daarna uit om die nuwe jaar op haar fiets tegemoet te gaan met die Transbaviaans-bergfietsmarathon wat in Januarie plaasvind en oor 230 km strek.

Sy beoog ook om die Sani2c-bergwedren in KwaZulu-Natal te voltooi.

Sy het al dié wedren aangepak, maar moes onttrek nadat sy geval en haar sleutelbeen gebreek het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.