Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kerk kan nou herbesin

Hopelik sal die NG kerk op alle vlakke – in die leierskorps, maar ook op gemeentevlak – met ’n nugtere kalmte besin oor die hooggeregshof se uitspraak dat elke gemeente nou weer self kan besluit oor die mate waarin gay-lidmate mag inskakel.

Die ondeurdagte aard van die buitengewone sinode in 2016, waar dié besluit omgekeer is, word verder bevestig deur die hof se uitwysing dat op byna geen vlak voldoen is aan die prosedures van die NG kerk se eie kerkorde nie.

Destyds het kerkleiers ook die media verkwalik vir die manier waarop verslag gedoen is oor daardie besluit, wat op ’n Vrydag geneem is.

Maar agterna is erken dat die volledige besluit nie vir die media beskikbaar was nie omdat ampsdraers eers die detail daarvan die naweek daarna moes gaan formuleer.

Dit is nie die manier waarop enige geloofwaardige instansie bestuur behoort te word nie.

Dit lyk asof die menslike gemoedere van verdeeldheid in die buitengewone sinode moontlik te gaande was om selfs operasionele prosedures sinvol uit te voer. Die gay-kwessie het die NG kerk die laaste tyd onnodig seergemaak.

Die kerk moet die kwessie nou probeer hanteer op ’n manier wat dié instelling eerder versterk.

In vele opsigte kan die kerk met sy bronne en sy talryke gemeentes landwyd steeds ’n sleutelrol speel in die stabilisering van ons samelewing.

Die projekte wat sommige gemeentes in hul omgewing aanpak – ook oor alle kleurgrense heen – is prysenswaardig. Die voortsetting daarvan is belangrik vir Suid-Afrika.

Die gay-kwessie bly steeds ’n omstrede onderwerp in verskeie kerke, al is gelyke regte vir gays reeds in die Suid-Afrikaanse regstaat gevestig.

In hul besinning daaroor sal kerklidmate in ag moet neem dat dit gaan oor ’n spesifieke groep gays wat die Christelike geloof openlik bely en nie ’n lewe buite die kerk kan voorstel nie.

Is dit nie die waardestelsel wat die NG Kerk in die eerste plek bevorder nie? Wat ’n sterk getuienis deur ’n groep wat juis meermale aan die ontvangkant van uitsluiting in die kerk is.

Die oorspronklike besluit wat nou deur die hof herstel is, is in 2015 deur die algemene sinode geneem. Moontlik kan dit as ’n basis dien vir lidmate om op gemeentevlak te besin hoe hulle met verskille en al vorentoe gaan saambestaan.Die NG kerk het later vanjaar weer ’n algemene sinode. Dit is ’n geleentheid vir kerkleiers om sinvolle rigting te gee.Volksblad, 11 Maart

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.