Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kerskous vol drome

Sommige mense kla oor die kommersialisering van Kersfees.

In die supermarkte is Kers­versierings reeds te sien, en word die pakkamers waarskynlik gevul om direk ná Kersfees met die terug-skool-toe-bemarkingsveldtog te begin.

Ek geniet die Kerstyd. Kersliedjies in winkels neem my terug na my kinderjare. Die somers op die plaas met wolke en reën. My sussie wat die dag as die skole in Desember sluit, begin vra oor die Kersboom.

Ma het haar voet dwars gesit: eers van 16 Desember af. Van daardie datum af het geskenkies een ná die ander verskyn, en jy kon Sussie net nie wegkry van daardie boom af nie. Sy het die geskenkies bevat en bevroetel dat die geskenkpapier se glans teen Kersfees al verdwyn het. Dit was die uitsien wat dit so lekker gemaak het.

As ek vandag terugkyk, onthou ek dat pa elke jaar Old Spice gekry het; vir die res van die jaar was dit Rightguard. Sakdoeke was ook sy voorland. En hy het dit elke jaar met opgewondenheid waardeer.

Gegewe dat ma nie gewerk het nie, en dat dit met sy eie salaris gekoop is, besef ek vandag hoe waardevol die samesyn was, die roetine, die stories – en die herinneringe wat ongesiens opgehoop het.

Wat ma gekry het, kan ek beswaarlik onthou. Wat ek wel weet, is dat sy Kersfees bymekaargehou het; ’n vroegoggend geskuifel in die kombuis en teen laataand nog laaste tee en koekies vir almal.

Kersfees was ook vakansie. Swem by Loch Athlone en tentslaap op die plaas. Smiddae se donderbuie het die spruit volgemaak en kerrievis in die yskas en avonture op die kano verseker.

Tussen sandsteen en die kenmerkende patroonmatige pensvol reënwolke was die Oos-Vrystaat die perfekte agtergrond vir ’n rooijasman met ’n baard om te verskyn.

Drome was moontlik.

Elke keer as ek by ’n supermark instap, neem die versierings en musiek my terug na daardie dae.

Dan pla dinge soos kommersialisering en klakouse my min – daar is altyd plek vir ’n Kerskous vol drome.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.