Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Kies om ’n vrolike lied te sing’

“Johnny en Sollie het op Dinsdag 4 Februarie op en af in die straat voor my huis gery, met my in die karretjie. Ek het die heeltyd met ’n glimlag gesit. Ek kan nie glo my droom gaan bewaarheid word nie,” sê Deon Bezuidenhout, ’n kwadrupleeg van Harrismith.

Johnny Eyberg vertrek op 20 Februarie uit Harrismith, en Sollie Prinsloo sluit in Bloemfontein by hom aan. Hulle sal dan tot in Kaapstad ry.

Daar sal Deon aan die Kaapstad-fietstoer deelneem, en om die beurt deur Johnny, Sollie en Jaco Kotze getrek word.

Altesaam 30 jaar gelede, op 18 Februarie om 19:10, het Deon gevoel hoe sy bene – en daarna sy liggaam – lam word. Hy was in ’n motorongeluk naby Vrede.

“Jou liggaam mag dalk nie meer dieselfde wees nie, maar jy is nog dieselfde mens,” sê Deon.

Deur die jare het hy baie terugslae beleef. Hy moes verskeie operasies ondergaan en maande aaneen in die hospitaal deurbring. Hy het selfs malaria gehad.

“Jy het ’n keuse: Jy kan vrolik wees en jou lied van die lewe sing, of jy kan jou treurmare sing. Wanneer jy jou treurmare sing, gaan jy beslis vereensaam, want mense gaan jou vermy. Ek verkies om ’n vrolike lied te sing, want die lewe skuld my niks. Dit is wat ek daarvan maak,” sê Deon.

Daar is deurentyd mense by hom en sy ma, Babs, versorg hom.

Hy help graag skoolkinders met leerprobleme – veral dié wat met wiskunde en wetenskap sukkel. So het hy al ’n hele klomp deur matriek gehelp.

Deon was as jong man ’n kranige sportman wat graag in een jaar aan die destydse Argus-fietswedren, die Twee Oseane- en Comrades-wedloop wou deelneem, maar elke keer moes hy Weermag toe.

Nou kry hy vanjaar die geleentheid om op 8 Maart aan die Kaapstad-fietstoer deel te neem.

“Ek gaan die hele tyd met ’n glimlag sit.”

Deon het jare lank gedroom om van die Uniegebou tot by die Parlement te ry om geld in te samel vir mense met gestremdhede wat pas uit die hospitaal ontslaan is.

Hy kry nou die geleentheid om saam met Johnny en die ander fietsryers geld in te samel om rolstoele aan te koop vir diegene wat dit benodig.

“ ’n Rolstoelkussing kos R8 900, en ’n spesiale rolstoel sowat R25 000.”

Wanneer hulle naby Kaapstad kom, gaan Deon en ’n groep fietsryers die laaste deel saamry, waarna Deon ’n boodskap aan die organiseerders gaan oorhandig.

“Ek was in 1989 laas in die Kaap, en my ma 70 jaar gelede. Daarby word sy op 6 Maart 78 jaar oud en ons vier dit in die Kaap,” sê Deon.

“Was dit nie vir die liewe Vader nie, was ek nie hier nie. Ek dank Hom elke dag. Hy en my ma, wat my al die jare versorg, is die belangrikste in my lewe.”

Deon-hulle wil volgende jaar weer deelneem en kyk of hulle meer borge kan kry om meer rolstoele te koop.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.