Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kleur só aan Krismishuis gegee
Dit is amper Kersfees en kuiertyd. Sorg gou vir ’n bietjie kitskleur binnenshuis en op die stoep ook. Dit is vinnig, maklik en doeltreffend met mooi potplante.

Koop ’n paar karlienblomme

Karlienblomme (poinsettia) is tradisioneel aan ons somerse feestyd, hoewel hulle snaaks genoeg eintlik in ’n natuurlike habitat in die winter blom – dus ’n slim bedinkte foefie-plant vir Kersfees in Afrika.

Hoewel die rooi karlienblom nog altyd as ’n staatmaker-versierplant vir die Kerstyd beskou is, is ons deesdae nie meer gebonde aan net hierdie tradisionele kleur nie en dis hoekom ons nou ook kan kies uit hibriede met ligte room-, diep ougoud- en skelpienk met goudbronskleurige skutblare.

Die groot kleurryke skutblare (gewysigde blare) word dikwels verkeerdelik vir kroonblare aangesien, maar as jy dit van naderby bekyk, sal jy sien dat die blomme in werklikheid die piepklein geel goedjies in die middel van al die skutblare is.

Karlienblomme hou beslis nie van te veel water nie en die boonste lagie van die uiters humusryke grond waarin die kwekers hulle geplant het, moet droog voel voordat jy natgooi – ’n goeie natmaak een maal per week sodat die water by die pot se dreineergate uitloop en goed afdroog voor dit weer uitgestal word, is heel gaaf. Hou karlienblomme op ’n goed verligte plek (maar nie in direkte sonlig nie) sonder trekke.

As jy goed gesorg het vir jou karlienblomme behoort hulle mooi te lyk tot amper in Maart, en dan het jy twee keuses: Gooi óf die hele plant op die komposhoop, óf plant die verstokte plant met die afvallende blare in die tuin uit, waar dit miskien weer sal blom in ’n volgende jaar mits die tuin in ’n redelik gematigde klimaat is. Waar dit wel oorleef, kan dit eindelik ’n baie groot, bladwisselende struik word.

Hierdie plante verlang 12 uur sonskyn wat deur 12 uur van algehele duisternis gevolg moet word om blom te inisieer.

Boonop word hulle in kweekhuise behandel met ’n verdwergingsagent om as kleurryke potplante vir die Kerstyd bemark te word.

Koop maar liewer elke jaar nuwe plante vir jou krismishuis.

Krismisrose in potte

Buite in die tuin blom hulle geil aan groot en spreidende struike in die skadutuine van gelukkige tuiniers, maar dié siele met net ’n patio, of selfs net ’n sitkamertjie staan dan spreekwoordelik “bek-in-die-wind”.

Suid-Afrika se slim kwekers van mooi plante het dit reggekry om hulle in kleiner potte te kweek sodat hulle sonder sukkel in ’n mooi dekpot kan inglip.

Onthou om hulle goed nat te hou terwyl hulle in hierdie potplanthouers is omdat die plant in volle blom liters water opdrink.

Wanneer die vakansietyd verby en al jou gaste weg is, is dit tyd om jou gepotte krismisrose met hope suur kompos en ’n rojale deklaag in ’n kol met halfskadu in die tuin te plant – so nie, gooi of gee weg vir iemand wat ’n plekkie daarvoor het.

Orgideë vir Kersfees

Met Kerstyd is mense geneig om Kersbome, klaterstringe en helderkleurige glasornamente te soek om die huis mee te versier. Hoekom nie eerder na orgideë kyk nie? Phalaenopsis of die mot-orgidee verskaf weke lank plesier in die huis. Elke afsonderlike blom hou tot agt weke en die plant se voorkoms verander soos nuwe blomme oopgaan. Phalaenopsis in ’n geskenksak is ook ’n welkome en luukse (maar relatief goedkoop) geskenk wat baie langer plesier gee as ’n bos snyblomme.

– Anna Celliers, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.