Die 14de Kwilt in Clarens-fees word van 18 tot 21 Junie in dié Oos-Vrystaatse dorp aangebied. Benewens die 21 klasse wat feesgangers kan bywoon, sal tussen 100 en 150 pragtige kwilts ook op uitstalling wees.
Volgens Alaë Gräbe, die feesorganiseerder, gaan daar, op versoek van feesgangers, heelwat meer materiaaluitstallers wees. Kwilters kan dus sommer hul voorraad tydens die fees aanvul.
Sowat 150 mense het hulle reeds vir die 19 kwilt- en 2 weefklasse ingeskryf. Daar is egter nog heelwat plekke beskikbaar. Hoewel inskrywings amptelik op 15 Mei sluit, is laatslapers welkom om Gräbe nog daarna te kontak.
Rové Mittermaier, wat ’n klas tydens die eerste fees aangebied het, gaan vanjaar drie kursusse aanbied – Day to Jerusalem, Snail Trail en Tri-Spectra.
Maretha Fourie, wie se boek Kwilt potpourri verlede jaar verskyn het, gaan ’n driedagkursus vir gevorderde kwilters aanbied. Soos die boek, gaan die kursus fokus op die geometriese vorms driehoeke, diamante en heksagone.
Altesaam sewe handwerkkenners van oor die land heen gaan die klasse in Clarens aanbied. Die kwiltonderwysers wat feesgangers gaan leer om pragkwilts te maak is Mari Strydom, Mittermaier, Riana van Niekerk, Annie du Toit, Tilly de Harde, Emmie van den Berg en Fourie. Glynis Brooke gaan die twee weefklasse aanbied.
Strydom se klas, Scrappy Fish, beloof om pret te verskaf, terwyl Thread Painted Cat/Squirrel ’n kunswerk is waarin met borduurwerk “geskilder” word. Twee gebruiksartikels gaan ook gemaak word. Van Niekerk gaan twee klasse aanbied waarin onderskeidelik ’n kwiltkussing en ’n naaldwerkvoorskoot gemaak word.
Besoekers is ook welkom om die uitstallings te gaan besigtig.
Rig navrae aan Gräbe by 082 577 2232, of stuur e-pos na quiltinclarens@gmail.com.