Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Kou aan taal se lekkerte

Hulle het vaagweg bekend gelyk. Joviaal. Vriendelik. Man en vrou wat gemaklik met mekaar is.

In die loop van die lekker gesels tydens ’n’n vroeg­oggend poësie-werksessie op verlede jaar se Boekbedonnerd-geleentheid in Richmond het hulle my en Benno vir ontbyt genooi.

Haar naam is Irma, syne Sampie.

Irma se interessante belangstelling in ou Afrikaans-handboeke het my weer bedag gemaak op die lekkerte van vergete Afrikaanse woorde en uitdrukkings.

“Veral in weggooi-boekrakke is daar dikwels stokou Afrikaanse Verklarende Woordeboeke en ander Taal en Styl verrassings. Wonderlike winskopies”

Sy het onwetend ’n saadjie geplant. Sedertdien verlekker ek my elke keer daarin wanneer ek weer ’n ou Afrikaanse teks optel en ou woorde raakloop – dikwels ‘n winskopie, weinig duurder as ’n sikspens.

In ’n reisbeskrywing deur Anna M. Louw lees ek van weerligstrale wat deur die wolke slangtongetjies maak. Slangtongetjies. Ek kan sommer die weerlig sien speel.

En ek is bevrees, snake-tongues gaan nie werk nie. In ander boek-skatkiste vind ek nog pêrels.

In watter ander taal kry ’n mens karnallies en woelwaters?

Hoewel kasaterwater na flou tee verwys, wonder ek steeds wat kasater dan nou eintlik is.

Danksy ons trek-geskiedenis weet ons van agterosse wat in die kraal kom en ander osse wat deur die stowwe aanstap. Soms moes van die jonger knape kapittel word omdat hulle nie flink uit die vere was toe die môrestond nog goud in die mond gehad het nie.

Irma se aansteeklike liefde vir ou woorde laat my sommer wens dat ek alle Afrikaanse onderwysers kan oortuig van die lekkerte van idiome. Daar is soveel meer lewe in taalhandleidings as die ewige lyste wat kinders moet leer en waarvan daar net een of twee in die eksamen gevra word.Wanneer laas het ’n onnie haarself verkneuter in die sappigheid van taaltierlantyntjies wat sy met die woelwaters in die klas kon deel?

  • Later skemer dit deur waarom Irma en Sampie se name ’n klokkie gelui het. Hul verhouding was die inspirasie vir die Afrikaanse fliek Vir die Voëls, en hul teenwoordigheid was te danke aan die vertoning daarvan as deel van die Boekbedonnerd verrigtinge.

Sedertdien geniet ek Afrikaanse optelstukkies soos gekerfde biltong. Elke taalkerfie ’n verkwikking wat my dors maak vir meer.

Akademiese debatte oor die toekoms van die taal moet plek maak vir taallekkernye in die klaskamer en kletskamers; want sonder die lekkerbekkigheid van trippe, trappe en trone eindig ons met varkies in die bone, en is die hele stryd om die behoud van taal dalk net vir die voëls.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.