Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Leer om vir jouself te lag’

Die komediant Schalk Bezuidenhout, met sy kleurvolle trui en koordferweelbroek, het Donderdag (30/08) Bethlehemiete tydens sy eenmanvertoning by Atmosvuur laat skaterlag.

Tussendeur die verfilming van Hotel, ’n mokumentêr op kykNET, se derde seisoen, het hy ’n paar uur afgeknyp om in Bethlehem op te tree en met Vrystaat Nuus/News te gesels.

Schalk het pas van Edinburgh in Skotland teruggekeer waar hy geleer het elke mens geniet komedie op sy eie manier.

“As jy my ’n maand terug gevra het wat die mees ongemaklike ding op die verhoog was, sou dit wees as niemand lag nie. Maar ek besef nou nie almal lag hardop nie.

“Soms kry jy ’n luistergehoor wat dit ook baie geniet. Maar dit bly steeds die lekkerste as ’n gehoor – van oud tot jonk – vir jou lag,” vertel hy.

Hy vat ’n happie van sy pizza en sê: “Ek moenie eintlik pizza eet nie. Hulle moes reeds my onderbaadjie vir die derde seisoen van Hotel verstel sodat ek daarin kan pas.”

Schalk vertel hy het eintlik “per ongeluk” op komedie afgekom.

“Toneelspeel was my groot fokus. Ek wou net op die verhoog klim. Dit was vir my meer ’n stokperdjie om mense te laat lag,” sê hy.

Sy rol in die rolprent, Kanarie, wat as die beste rolprent by die Silwerskermfees aangewys is, was vir hom ’n heerlike ervaring om iemand se storie te deel. Hy het die rol van Johan Niemand, ’n jong man wat vir militêre diensplig opgeroep word, gespeel. Johan raak dan deel van die lugmag se sanggroep en ontwikkel gevoelens vir ’n manlike koormaat.

“Dit is gegrond op Charl-Johan Lingenfelder, die musikale regisseur van die rolprent, se ervarings in die army. Met toneelspel is dit ’n totale oorskakeling na ’n ander mens en daarom was dit nie veel anders as om enige ander rol te vertolk nie,” sê Schalk.

Schalk vertel van sy grootwordjare in Kemptonpark. Hy het in ’n liberale ouerhuis grootgeword, maar binne ’n redelik konserwatiewe gemeenskap.

“My ouers het my geleer ek moet vir almal ‘oom’ en ‘tannie’ sê, ongeag velkleur.”

Hy het aan die Universiteit van Kaapstad studeer en dit was vir hom ’n kultuurskok. Dis ’n plek waar alle mense van alle rasse in dieselfde koshuis bly.

“Jy moet bykom of loop,” sê hy.

Op die vraag of Schalk by die huis verskil van Schalk op die verhoog, antwoord hy: “Nee, nie rêrig nie. Ek probeer vir mense op die verhoog so akkuraat as moontlik wys wie ek is en sê: ‘Hierdie is Schalk Bezuidenhout’.”

Op die verhoog is dit vir hom belangrik om by sy gehoor aan te pas.

“Dit kom met ondervinding om aan te pas wanneer iemand iets uit die gehoor skree,” sê hy.

Hy maak ook nie sommer net datums vir vertonings vas voordat hy nie weet hy is tevrede met sy nuwe vertoning nie.

“Ek wil trots wees daarop, al neem dit ’n jaar om ’n vertoning aanmekaar te sit.”

Schalk beoog om sy loopbaan internasionaal uit te brei en gaan in Oktober Londen toe.

Hy is van mening dat Afrikaanse humor nog ’n ver pad het om te gaan. Wanneer dit by nuussatire soos sy program Die Ware Naarheid kom, sê hy: “Mense moenie goed so persoonlik vat nie. Ons moenie dadelik so verdedigend raak nie. Ons moet leer om vir onsself te lag.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.