Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Leeus terug by die huis

Twee wit leeus wat op ’n plaas net buite Bethlehem gebore is, het hul sirkel voltooi deur Woensdag (20/11) ná 12 jaar terug te keer huis toe.

Four Paws, ’n dierewelsynsorganisasie, het intussen dié plaas in die Lionsrock Big Cat Sanctuary omskep.

Uhuru en Jua is in 2006 uit die geblikteleeubedryf gered.

Dié twee is deel van Konquela, ’n wit leeuwyfie wat op die plaas aangehou was vir teeldoeleindes, se werpsel.

Michele Higginson, ’n sakevrou van Johannesburg en die eienaar van die leeus, het dié plaas in 2006 besoek en gesien in watter omstandighede die diere aangehou word. Sy het met onderhandelings deur ’n derde party begin om agt leeus aan te koop.

“Toe ek die plaas besoek het om dit te ondersoek, het ’n klein leeuwelpie in my kamer ingekom. Hy was duidelik angstig, moeg en het ’n honde-halsbandjie om sy nek gedra. Ek het op daardie oomblik besef dat iets gedoen moet word om die diere so gou moontlik daar weg te kry,” sê Higginson.

In die proses om ses leeus te koop, het Konquela geboorte gegee aan Uhuru en Jua, wat ook nou die verantwoordelikheid van Higginson is. Ná amper ’n jaar se onderhandelings en die proses om ’n gepaste huis vir die leeus te vind, het hulle ’n toevlug in ’n afgesonderde reservaat in die Oos-Kaap gevind.

“Toe Konquela in haar nuwe kamp by die reservaat vrygelaat word, kon ek sien dat sy verlig is om buite gevaar te wees en uiteindelik haar welpies te kon hou. Sy het 11 goeie jare saam met haar werpsel gehad,” het Higginson vertel.

Uhuru, wat “vryheid” in Swahili beteken, en Jua, wat “son” beteken, het wel ’n stadium in hul lewe bereik waar hulle gereeld gemonitor moet word en gespesialiseerde sorg nodig het. Dit is waarom hulle na Lionsrock gebring is.

“As leeus ’n sekere ouderdom bereik, moet ons hulle sorgvuldig monitor vir enige gesondheidsprobleme. Dit kan wissel van tandprobleme, osteoporose, artritis of ander probleme wat voortspruit uit vroeë ontwikkeling,” sê Hildegard Pirker, hoof van die departement van dierewelsyn by Lionsrock.

Uhuru en Jua het ’n nou band en is saam in ’n kamp van een hektaar by Lionsrock vrygelaat.

“Aangesien hulle al aan vryheid en ’n groot kamp gewoond is, sal ons hulle eers in die gebied vrylaat om hul gedrag te monitor, maar na alle waarskynlikheid sal hulle binnekort na ’n groter deel van hul kamp vrygelaat word,” sê Pirker.

Fiona Miles, direkteur van Four Paws in Suid-Afrika, het gesê die koms van Uhuru en Jua herinner haar aan die tyd toe die organisasie die aankoop van die plaas onderhandel het.

“Ten tyde van die onderhandeling oor die aankoop van die eiendom, het ons geweet dat Konquela saam met haar welpies die plaas sou verlaat, maar ons het geweet dat hulle in veilige hande is en na ’n plek sou gaan waar daar op ’n gepaste wyse na hulle omgesien sou word. Dit is ’n groot voorreg om hulle terug by die huis te verwelkom.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.