Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Meer as die helfte van dierelewe al uitgewis

Die mensdom het van 1970 tot 2014 altesaam 60% van die soog­diere, voëls, visse en reptiele uitgeroei in pogings om sy oënskynlike onversadigbare drang na verbruik te bevredig.

Dié massa-uitwissing het nou in ’n krisis ontaard wat die grondslag van die beskawing bedreig.

Dít is die gevolgtrekking waartoe 59 van die wêreld se voorste wetenskaplikes kom in die Wêreldnatuurfonds (WWF) se Living Planet Report 2018.

Die verslag is vanjaar ’n 20ste keer uitgereik.

Die wetenskaplikes kom in die verslag tot die gevolgtrekking dat die mens se verbruikspatrone nou die web van die lewe bedreig.

Hulle wys daarop dat dit miljoene jare geneem het om die planeet se lewensweb, waar­onder skoon water en lug, te vorm en dat die mens dit in 50 jaar byna vernietig het.

Luidens die verslag het mens­like aktiwiteit die habitat van die natuurlike hulpbronne waarvan die mens afhanklik is (soos die oseaan, woude, koraalriwwe, vleilande, riviere en vrugbare grond) in so ’n mate vernietig dat dit nou sy eie voortbestaan bedreig.

’n Voorbeeld hiervan is dat die woude in die Amasone in net 50 jaar met 20% ingekrimp het.

In die verslag word klem gelê op die noodsaaklikheid van natuur­bewaring en die invloed wat dit op die mens se ge­sondheid het, asook die bydrae wat dit tot die welstand van ge­meenskappe en die vooruitgang van die wêreldekonomie, lewer.

Die natuur dra internasionaal by tot dienste met ’n geraamde waarde van sowat $125 000 miljard per jaar.

Mike Barrett, uitvoerende hoof van wetenskap en bewaring van die WWF, het aan The Guardian gesê dit lyk asof die “mensdom in sy slaap in die rigting van ’n afgrond loop”.

“As daar ’n afname van 60% in die wêreldbevolking sou wees, sou dit beteken het alle mense het uit sowel Noord- as Suid-Amerika, Afrika, Europa, China en Oceania verdwyn.

“Dít is die skaal waarteen die natuur leeggemaak is,” het Barrett gesê.

Marco Lambertini, direkteur-generaal van die WWF, het in ’n verklaring gesê dit het tyd geword dat die mens besef ’n gesonde volhoubare toekoms vir almal is net moontlik as die natuur ongeskonde bly en woude, oseane en riviere vol biodiversiteit en lewe is.

Hy meen die mensdom is nou by ’n kruispad.

“Vandag het ons die kennis én instrumente om ons verhouding met die planeet te herdefinieer.

“Daar is geen verskoning vir ’n gebrek aan optrede nie,” het hy dit gestel.

Lambertini meen die mensdom het net tot 2020 kans om ’n “nuwe ooreenkoms” met die planeet aan te gaan.

Dit is soortgelyk aan dié wat wêreldleiers met die Parysooreenkoms oor klimaats­verandering bereik het.

Luidens die verslag is “alles wat in die moderne wêreld gebruik word” van die natuur afkomstig.

Selfs sakelui is deesdae bekommerd oor die krimpende natuurlike hulpbronne.

Beleidmakers sit met die hande in die hare oor klimaat- en volhoubare ontwikkelings­doelwitte wat bereik moet word, terwyl biodiversiteit ooglopend afneem.

Volgens die WWF se verslag het die Soölogiese Vereniging van Londen, wat die verslag help opstel het, data van 16 704 bevolkings van soogdiere, voëls, vis, reptiele en amfibieë ingespan.

Dié bevolkings verteenwoordig 4 000 spesies.

Habitatvernietiging vir die voorbereiding van boerdery is as een van die grootste redes uitgesonder vir die verlies aan biodiversiteit en die afname in wildgetalle.

In die verslag word daarop gewys dat wild wat geëet word die naasgrootste rede is vir die uitsterwing van spesies.

Elise Tempelhoff vir Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.