Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Mentorskap bemagtig groep boere

Die viering van ’n groep ontluikende boere in Rosendal en Qwaqwa se eerste aspersie-oes was Woensdag (05/12) die middelpunt van ’n mediadag wat in die prentjiemooi Rosendal gehou is.

Die mentorskapprojek wat deur VKB en die Graanboer-ontwikkelingsvereniging bestuur word, met ander belang­hebbendes wat tegniese bystand bied, is in 2012 begin.

Die projek streef daarna om volhoubare kommersiële boere te ontwikkel deur intensiewe opleiding en mentorskap, asook ’n program om strukturele beperkings wat boerdery belemmer – soos die gebrek aan meganisasie, geen toegang tot finansiering en insette en swak grondstatus – geleidelik te verminder.

Piet Potgieter, VKB se landbou-ontwikkelingbestuurder, sê ondanks ’n uiterse droë 2015 en 2016 het die boere wat deel van die projek is tot hoër vlakke van volhoubaarheid gevorder. Hulle was ook in staat om moderne graanboerderypraktyke te betrek.

Die boere het egter steeds onvoldoende skaalbesparings gehad.

“Hulle het goeie wins per hektaar grond, maar die totale wins per plaas het onvoldoende gebly om voorsiening te maak vir kritieke herbelegging en om ’n bestaan te handhaaf.”

Die boere het ’n gemiddeld van 90 ha tot 130 ha bewerk­bare grond, wat op die skaal van boerdery-aktiwiteite op ’n kommersiële basis klein is.

“Ons het bevind die ekonomiese skaal van die boere is te klein en hulle het nog sake-aktiwiteit en vertakkings nodig. Ons het toe met Landbank en die Jobs Fund begin saamwerk om die hele projek op ’n hoër vlak te bedryf en om die boere se grondgebied uit te brei sodat hulle op ’n groter skaal kan boer,” sê Potgieter.

“Aspersies is as ’n lang­termyn-oes by die boerderye inkorporeer om inkomste te verhoog. Die aspersielanderye is gevestig op bykomende grond wat deur langtermyn- notariële huurkontrak-ooreenkomste gehuur word.”

’n Vennootskap is tussen die boere, VKB en Denmar gevorm om deur Denmar se uitgebreide verspreiding- en bemarkings­netwerk toegang tot prominente kleinhandelaars, asook uitvoermarkte, moontlik te maak.

Benewens die marktoegang kon boere Global GAP-gesertifiseer word, ’n mylpaal wat in die eerste oesseisoen (wat van 23 Augustus tot 10 Oktober gestrek het) behaal is. Dit beteken hierdie groep boere slaag daarin om op inter­nasionale peil te produseer.

Met die uitbreiding van die boere se produkmengsel meen Potgieter daar is potensiaal om die boer se inkomste te verdubbel en sy volhoubaarheid te verhoog.

Benewens vyf boere van Rosendal se plase, besit elkeen ook 15 ha van die 75 ha huurgrond by Rosendal.

“Ons streef daarna dat die boere sowat 70% eie kapitaal het en 30% skuld,” sê Potgieter.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.