Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Minder is meer’ in dié vrugtekoek

Glo dit of nie, maar Kersfees is om die draai en die sjef Mynhardt Joubert het sy vrugtekoekresep met die publiek gedeel sodat ywerige bakkers daarmee kan wegspring.

Joubert is weer druk besig met die maak van sy jaarlikse “Vrystaats-Kersvrugtekoek” en sy eerste baksel is reeds beskikbaar.

Dié sjef, wat saam met Tiaan Langenegger kykNET se eerste Kokkedoor-reeks gewen het, ondersteun vanjaar die Valley of Abundance-projek tesame met Montagu Dried Fruit and Nuts, Moir’s, Sasko en KWV Brandy.

Joubert gaan vanjaar R30 van elke koek wat hy verkoop aan die Valley of Abundance-projek skenk. Die projek skakel tussen organisasies sonder winsbejag en ondernemings met die doelwit om onder meer werk te skep.

Wenke vir perfekte vrugtekoek

“Minder is meer. Om te vry­gewig met die vrugte en brandewyn te wees, sal lei tot ’n digte en swaar koek wat ’n bietjie suur smaak,” sê Mynhardt.

Hy sê jy moenie te rof meng en roer wanneer jy alles bymekaar voeg nie, want jy sal die neute en kersies fyndruk.

Die resultaat van dié resep sal ’n ligte koek vol geur wees met net die regte hoeveelheid speserye, vrugte en koek.

Mynhardt se Kersvrugtekoek

“Dit is een van die lekkerste Kerskoeke wat ek in ’n lang tyd geproe het.

“Ek het die resep gekry by my suster, wat die koek een Kersfees vir my in ’n pragtige blik uit die Vrystaat gestuur het,” sê Mynhardt.

Jy benodig:

250 ml water

310 ml sagte bruinsuiker

1 kg Montagu-droëvrugte-vrugtekoekmengsel

250 g Montagu-droëvrugte-dadels, gekap

250 g Montagu-droëvrugte- goue sultanas

250 g Montagu-droëvrugte-kasjoe- en makadamianeute, grof gekap

7 ml koeksoda

250 g botter

100 g heel, rooi Moir’s kersies

100 g heel, groen Moir’s kersies

5 eiers, geklits

20 ml vanieljegeursel

125 ml KWV-brandewyn

625 ml Sasko-bruismeel

5 ml sout

5 ml kaneel

Só maak ’n mens:

1. Voorverhit die oond tot 120 °C.

2. Smeer ’n hoë pan van 25 cm met botter. Voer uit met drie lae bakpapier (op die bodem en teen die kante) en smeer weer met botter.

3. Verhit die eerste agt bestanddele (water, suiker, vrugtekoekmengsel, dadels, sultanas, neute, koeksoda en botter) stadig saam tot kookpunt en prut 5 minute lank.

4. Verwyder van die hitte en laat afkoel. Voeg kersies by.

5. Meng die eiers, vanielje en brandewyn saam en roer dit by die beslag. Voeg die meel, sout en kaneel by en roer goed.

6. Skep die beslag in die pan en bak vir 2 uur tot deurgaar. Laat dit in die pan afkoel en keer uit.

7. Sprinkel ’n bietjie brandewyn oor en bêre in ’n lugdigte houer. Klam die vrugtekoek gereeld aan met nog ’n bietjie brandewyn.

Sjef Mynhardt se koeke kos R300 en jy kan een per e-pos by cake@mynhardt.co.za bestel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.