Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Misdaad neem toe

’n Tekort aan polisielede in Reitz kan ’n rede wees waarom ernstige misdaad, soos die jongste vlaag moorde in die gebied, toeneem en dat boere private sekuriteitsbeamptes betaal vir beveiliging.

Die organogram van die Reitz­polisiekantoor maak vir 72 personeellede voorsiening, terwyl daar net 59 is.

Só sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer, in ’n mediaverklaring.

Hy het saam met ’n span raadslede, Paulus Mkhwanazi en Thinus Blignaut (albei van Reitz, Nketoana), en Jafta Mokoena, Lucas Xaba en Eric Motloung (almal van Dihlabeng), ’n oorsigbesoek aan Reitz gebring nadat die gemeenskap die laaste tyd deur verskeie moorde geruk is.

Hulle verslag is daarna aan Sam Mashinini, Vrystaatse LUR vir polisie, paaie en vervoer, oorhandig, asook aan Zakhele Mbhele en Dianne Kohler-Barnard, albei DA-LP’s, en ook aan lede van die portefeuljekomitee oor polisie in die parlement.

Jankielsohn sê dit het met die oorsigbesoek aan die lig gekom dat daar net vyf polisielede per skof aan diens is en in sommige gevalle kan een van hulle met verlof wees.

“Dit veroorsaak dat twee polisielede op kantoor en twee vir patrollie in een voertuig beskikbaar is wat al die ongelukke in die gebied moet hanteer. Dan moet daar ook na die veiligheid van die bewoners van 530 plase, en die inwoners van Reitz en Petsana omgesien word.

“Vrywilligers is gebruik om die personeeltekorte in die polisiekantoor aan te vul, maar die polisie is ingelig dat dit nie meer toelaatbaar is nie. Die gevolg is dat die werklading ondraaglik is.”

Die oorsigbesoek het ook bevind dat daar in die verlede tien speurders was, maar nou is daar ses. Elke speurder het gemiddeld 100 dossiere op ’n keer wat hy moet hanteer.

Mashinini sê hulle is bewus van die personeeltekorte in die gebied.

“Om die probleem op te los, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se provinsiale bestuur vier bykomende polisielede toegeken wat tans opleiding ondergaan. Hulle sal in November 2018 met hul pligte begin. Die bestuur werk ook aan planne om die werkslading van speurders te verminder,” sê hy.

Die polisievoertuie in die gebied skep ook uitdagings. Luidens die verklaring moet die polisiekantoor 530 plase met een voertuig per skof bedien.

“Senior personeel van die polisiekantore moet te veel vergaderings bywoon wat hul tyd, en hulpbronne, soos voertuie, in beslag neem.”

Volgens Mashinini is daar ’n tekort van drie voertuie by die Reitz-polisiekantoor. Daar sal bykomende voertuie aan die kantoor toegeken word sodra die begroting vir die 2018-’19-boekjaar ontvang is.

Heelwat faktore dra tot die verhoging van misdaad by, soos tavernes, aangesien misdaad en dronkenskap hand aan hand loop, veral met aanrandings en verkragtings. Onwettige immigrante in die gebied dra ook tot die toenemende misdaadsyfer by.

Mashinini sê die polisie ondersoek dié kwessies gereeld.

Volgens Jankielsohn het ’n verteenwoordiger van die landbougemeenskap sy kommer oor misdaadtonele by plaasaanvalle uitgespreek.

“Misdaadtonele by plaasaanvalle en ernstige oortredings soos moord, raak gekontamineer omdat die polisie dit nie afsper nie.”

Volgens Mashinini vorm die hantering van misdaadtonele deel van polisielede se basiese opleiding.

“Lede van die polisiekantoor moes onlangs weer ’n kursus oor die bestuur van misdaadtonele bywoon. In gevalle waar ’n toneel gekontamineer word nadat die polisie opgedaag het, word interne dissiplinêre stappe geneem om die redes daarvoor te bepaal. Gepaste optrede word dan geneem,” sê hy.

Volgens Jankielsohn het die veediefstaleenheid in Fouriesburg nie genoeg personeellede nie en kan nie vinnig op klagtes reageer nie.

Mashinini sê die Fouriesburg-veediefstaleenheid val tussen twee gebiede, naamlik dié van Fouriesburg en Ficksburg.

“Dit lei daartoe dat die hulpbronne gerek moet word en om dit aan te spreek het die provinsiale bestuur besluit om die diensgebiede van alle gespesialiseerde eenhede in die provinsie anders te struktureer om dienslewering te verbeter.”

Luidens die verklaring voel die landbougemeenskap dat die vonnisse wat vir veediefstal opgelê word, te lig is.

In sommige gevalle is die diewe gou op parool uit om weer dieselfde misdade te pleeg.

Mashinini verduidelik dat die vonnisse vir veediefstal deur die nasionale vervolgingsgesag bepaal word. Hy sê as die SAPD staan hulle borgtog teen.

Ben de Jager, reaksiehoof by die Mamello Trading Security in Reitz, beaam dat daar die afgelope tyd ’n vlaag misdade in Reitz was. Hy sê heelwat inhegtenisnemings is gedoen en “dit gaan nou beter.”

De Jager waarsku oor die neiging dat daar by persele se dakke ingebreek word en die radiosenders uitgehaal word sodat alarms nie seine kan stuur nie.

Dié onderneming patrolleer elke aand die hele dorp en probeer hul bes dat die gemeenskap van Reitz nie in vrees hoef te lewe nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Vrystaat Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.