Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Model het hart vir SA kinders

Hoe loop die pad van die skoolgange in die Oos-Vrystaat na die loopplanke van die modewêreld?

Anica Myburgh (27), ’n oudleerling van die Hoërskool Witteberg in Bethlehem, sê sy het nog altyd daarvan gedroom om modelwerk te doen, maar nie gedink dit sou kon waar word nie.

Vandag is dit egter haar heeltydse beroep.

“Einde matriek (2011) het ek geen idee gehad wat ek wou studeer nie, maar is toe deur ’n (model)agentskap in Suid-Afrika genader,” sê Anica.

“Ek het besluit om ’n jaar af te neem en ’n modelloopbaan ’n kans te gee. Een jaar het toe nege jaar geword en ek geniet nog elke oomblik daarvan.”

Verlede maand was sy onder die 35 topfinaliste in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie.

Sy wou haar verlede jaar vir die kompetisie laat inskryf, maar die geleentheid om in die modehoofstad Parys te gaan werk het ’n stokkie hiervoor gesteek.

“Vanjaar was alles net reg vir my om in te skryf.

“Ek het eerstens ’n saak gehad waarvoor ek regtig wou inskryf, en (danksy die grendeltyd) is ek in Suid-Afrika terwyl ek gewoonlik hierdie tyd van die jaar oorsee werk.

“Ek is gelowig en het vir die Here gevra om my die leiding te gee oor of ek hierdie stap moet doen.”

Anica het in die verlede in haar vakansietyd kinders in haar plaasgemeenskap by Robertson in die Wes-Kaap, waar sy deesdae woon, met hul huiswerk gehelp.

“So het ek ’n dogtertjie ontmoet wat my hart aangeraak het. Sy is regtig skerp en so gewillig om te leer en was met elke lessie daar, al is dit nie verpligtend nie.

“Dit het my net laat besef dat ons in ’n land is met soveel potensiaal, maar dat hierdie kindertjies nie altyd geleenthede het nie. Ek wou die Mej. Suid-Afrika-platform gebruik om vir kindertjies soos sy ’n verskil te maak.

“Hoewel ek nie deur is na die top 15 nie, is die droom nie verby nie en ek werk steeds daaraan.”

Anica, die dogter van Eben en Annerie Myburgh, studeer nou deeltyds onderwys en het reeds ’n BSc-graad in sielkunde en fisiologie.

Sy het ook onlangs haar eie aanlyn onderneming, The Model Closet, begin.

“Ek ontvang klere van mense in die modewêreld en verkoop dit dan op Instagram,” sê sy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.