Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Moord ‘polisie se skuld’
Die moord op Brendan Horner kon voorkom word
Die moord op Brendan Horner kon voorkom word

Boere in die Oos-Vrystaat sê die moord op Brendin Horner (22) kon voorkom word as ag geslaan is op ’n gedetailleerde verslag waarin die vermeende lede van plaaslike veediefstalsindikate geïdentifiseer is.

Dié verslag, met die name van senior polisiemanne wat glo kop in een mus met die sindikate is, foto’s van verdagte voertuie en hul registrasienommers en selfs die name van mense met binnekennis van die korrupsie wat bereid sal wees om te praat, is glo reeds maande gelede aan ’n luitenant-kolonel in die Valke oorhandig.

Herkie Viljoen, veiligheidsvoorsitter van die Bethlehem-distrikslandbouvereniging wat ’n 24-uur-beheerkamer vir die streek in dié dorp bedryf, sê Horner is vermoor “omdat mense nie hul werk gedoen het nie”.

Talle landbouleiers het die afgelope week gesê die traagheid van die polisie om op te tree en die vaste oortuiging dat senior polisiemanne in die gebied by die misdaad betrokke is, is van die redes waarom gemoedere op Dinsdag 6 Oktober oorgekook het tydens die hofverskyning van twee verdagtes wat in hegtenis geneem is in verband met die moord op Horner op Donderdag 1 Oktober.

Horner, wat deur sy baas, Gilly Scheepers, beskryf is as “ ’n goeie, vredeliewende outjie wat nog ’n topboer kon geword het”, is vermoedelik deur veediewe by ’n plaashek oorval toe hy hulle op heterdaad betrap het. Hy is met ’n nylontou verwurg wat aan ’n heiningpaal vasgemaak is.

Sowat 30 mense het Dinsdag die hofgebou bestorm in ’n klaarblyklike poging om die beskuldigdes – Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44) – in die selle by te kom. ’n Polisievangwa is omgegooi en aan die brand gesteek.

Een van die vermeende oproermakers, ’n 51-jarige man, het op Vrydag 9 Oktober in die hof verskyn op aanklagte van terrorisme, poging tot moord, aanhitsing tot geweld en openbare geweldpleging. Hy mag ingevolge ’n hofbevel nie geïdentifiseer word nie. Sy borgtogaansoek is tot gister (13/10) uitgestel.

In ’n toespraak voor die hof het Viljoen die minister van polisie, Bheki Cele, gedaag om vir die Valke te gaan vra wat van die verslag “oor Paul Roux se korrupte polisie” geword het wat hy sê hy in Januarie reeds aan hulle gegee het.

Viljoen het gesê hulle eis dat die polisie binne ’n week ’n nasionale taakspan aanstel om veediefstal in die Oos-Vrystaat – en die plaaslike polisie se betrokkenheid daarby – te ondersoek. Hy het gesê die boere is oortuig sommige plaaslike polisiemanne is kop in een mus met veediefstalsindikate.

“Ons vang soms mense wat skape steel en alles erken. Dan kom haal die polisie hulle, en teen die tyd dat hulle in die dorp aankom, kan die veediewe skielik ‘niks onthou nie’.

“Twee polisiemanne, ’n sersant en ’n konstabel, het in die dorp loop en spog dat hulle nie aan hul polisiesalaris raak nie, want die veediewe betaal hulle soveel meer.”

Die woordvoerder van die Valke in die Vrystaat, AO Lynda Steyn, het gesê Viljoen se verslag het hulle eers op Donderdag 8 Oktober bereik. Sy sê soms ondersoek die Valke se hoofkantoor sake in hul gebied.

“Die verslag sal uitkom by die eenheid wat ernstige korrupsie ondersoek.”

Brig. Hangwani Mulaudzi, nasionale woordvoerder van die Valke, het gesê hy dra nie kennis van so ’n verslag nie.

  • Lees op netwerk24.com die volledige berig soos dit Sondag (11/10) in Rapport verskyn het.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.