“Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ’n gek, is strafbaar voor die Joodse Raad; en wie hom uitskel vir ’n idioot, is strafbaar met die helse vuur.”
– Matteus 5:22
Ons as Christene pleeg baie keer met ons gevoelens, ons gesindhede en ons woorde moord teenoor ons medemens.
Hoor ons nie gereeld woorde soos:
- “Ek bly maar vredesonthalwe stil, maar ek wens die skurk stik hom dood.”
- “Jou simpel idioot! Jy soek mos nou moeilikheid, man!”
- “Vlieg in jou dinges . . .” (Selfs met miskien ’n paar kragwoorde daarby gevoeg.)
- “Jou gek!”
- “Het jy gehoor watter onnosele ding het hy al weer
aangevang?”
Daar is nog veel meer aanmerkings soos dié wat uit die mond van Christene kom.
Uit woede word daar baie dinge teenoor mekaar gesê.
Jesus sê in die bogenoemde teksvers dat diegene wat selfs net kwaad vir hul medemens is, alreeds die sesde gebod oortree en so nie meer volgens sy wil leef nie.
As hierdie mens verder gaan en boonop sy medemens beledig, vind daar ’n oortreding gelykstaande aan moord plaas, verduidelik Hy.
Het jy vandag so ’n moord gepleeg?