Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nog ’n projek ‘staties’

Die DA het onlangs ’n toesighoudende besoek aan die Maluti-suiwel­projek in die Maluti-a-Phofung-munisipaliteit gebring.

Dit is nog ’n melkprojek in die Oos-Vrystaat wat klaaglik misluk het, sê dr. Roy Jankielsohn, DA-lid en leier van die amptelike opposisie in die Vrystaatse wetgewer.

Hy sê dit is nog ’n skandalige Vrystaatse grondhervormingsprojek wat verder ondersoek moet word.

“Wat ons gevind het, is die dop van die melkerygebou, waarvan toerusting en infrastruktuur weg of gevandaliseer is.”

Jankielsohn sê die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) het die projek in 2011 besoek. Dit is ’n inisiatief van die plaaslike munisipaliteit wat op twee staatsbeheerde plase bedryf sou word.

“Die suiwelprojek was duidelik van die begin af gedoem. Die plan was dat 53 koeie gemelk sou kon word om sowat 97 mense geldelik te ondersteun.”

Jankielsohn sê die Vrystaatse departement van landbou en landelike ontwikkeling het in die 2006-’07-geldjaar R860 000 op die plaas of plase bestee.

Met die NRP se besoek was die projek reeds staties weens verstopte boorgate, die verlies aan masjinerie en die verhouding tussen die begunstigdes, wat ook onderling skipbreuk gely het.

Die vee is later onder die begunstigdes verdeel en die melkery het tot stilstand geknars.

Die departement van landbou en landbou-ontwikkeling het aan die NRP gesê hulle sal opleiding verskaf, die boorgat oopmaak en die plaas gebruik om vee van die Diyatalawa-suiwelprojek tussen Harrismith en Kestell te huisves.

Nadat R15 miljoen bestee is om die melkery by Diyatalawa te vestig, het dit ook misluk.

Jankielsohn sê albei projekte is nou staties. Terwyl die Maluti-melkery­projek sonder enige kans op herstel staan, het die Diyatalawa-melkery steeds sommige van sy toerusting.

“Dit is duidelik dat die grondhervormingsprojekte in die Vrystaat, spesifiek melkeryprojekte, spesiale voertuie geword het waarmee die belastingbetalers se geld gemelk word en die hoop op ’n beter lewe vir die veronderstelde begunstigdes en hul families verdamp.”

Jankielsohn sê grondhervorming misluk steeds omdat die ANC lank uitgediende en verwaarloosde modelle van kollektiwiteit toepas in sy poging om die argaïese Nasionale Demokratiese Revolusie in werking te stel.

  • William Bulwane, Vrystaatse LUR vir landbou, sê hyself was nog nooit by die Maluti-suiwelprojek nie en ken dit nie.

“Ek wag op ’n verslag sodat ons as departement kan sien wat ons daar moet doen.”

Hy sê hy was wel self by die Diyatalawa-melkery waar die sogenaamde begunstigdes die projek uitverhuur het aan iemand wat vir homself R6 miljoen gemaak het, terwyl hy R400 000 aan hulle oorbetaal het.

“Ons gaan ’n projekbestuurder vir daardie projek aanstel sodat ’n einde gebring kan word aan die onderlinge struwelinge onder begunstigdes oor geld.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.