Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nou nie die tyd om op louere te rus

In November is daar geen luilekker somerdae vir ywerige tuiniers nie. Dit is werk – saai, plant, onkruid uittrek, bemes, natmaak en pluk van die eerste somergroente. Vir wat meer kan ’n tuinier vra?

Die tyd vir die saai van groente­saadjies is vinnig besig om tot ’n einde te kom.

Dit is die laaste maand vir eiervrugte en selfs tamaties in sommige gebiede.

’n Tweede oes tamaties kan in warmer gebiede gesaai word vir ’n deurlopende aanbod, en as die Switserse snybeet uitgeput lyk, moet jy ook ’n nuwe gewas saai.

Ander groente om hierdie maand te saai, is suikermielies, groenbone, komkommer, bos- en rankpampoen, spanspekke en waatlemoene, beet en wortels.

Belangrike tuintake is die verwydering van onkruid wat meeding om water en voeding, die uitdun van saailinge, deklaagbewerking en natmaak twee keer per week as dit warm en droog is.

Kirchhoffs se Marlaen Straathof benadruk die belangrikheid daarvan om saailinge uit te dun sodat gesonde plante kan ontwikkel. Sy plant die uitgewerkte saailinge elders of gebruik dit (beet, Switserse snybeet) as mini-groente in slaaie.

Aangesien water skaars is en beperk word, is haar voorstel om plante uitmekaar te hou, omdat daar meer ruimte is vir die wortels om na water te soek.

Herwin en hergebruik water waar moontlik, selfs met grys­water, wat veiliger is vir vrug­draende groente as blaargroente, omdat die vrugte minder geneig is om regstreeks in kontak met die gryswater te kom.

As daar skaduwee oor saadbeddings is sodat dit nie vinnig uitdroog nie, bespaar dit ook water.

Water-doeltreffende groente sluit in Switserse snybeet (die beste in die oggendson, middagskadu), eiervrugte en tamaties wat ’n dieper wortelstelsel het, en bosbone.

Die kweek van potplante help ook om die hoeveelheid water wat gebruik word te bestuur. Daar is ’n verskeidenheid patiogroente beskikbaar.

Hierdie kleiner variëteite wat vir houers geteel word, het dikwels ’n hoër opbrengs per plant as standaardvariëteite.

Kweek eiervrugte

Eiervrugte is ’n bestanddeel in baie Mediterreense geregte, asook in die Indiese en klassieke Franse kookkuns.

Die plant moet in volson wees of oggendson kry en in goed vrugbare, gedreineerde grond geplant word, wat ruim hoeveelhede kompos en organiese kunsmis moet bevat.

As dit van saad gesaai word, moet die grond in geen stadium tydens die ontkieming uitdroog nie. Jong plante moet ongeveer ’n halfmeter van mekaar geplant word, met ’n dammetjie rondom sodat dit goed natgemaak kan word.

Dwergeiervrugte, soos Patio Baby, Hansel (swart-pers) en Grietje (wit), groei ook goed in potte; die beste grootte is 50 cm in deursnee. Knip die uitgroeisels af om ’n bosagtige plant te verseker.

’n Erfenisgroente-variëteit van Kirchhoffs is Long Purple, wat lang, skraal komkommervormige vrugte met ferm vleis en ’n sagte geur het. Dit dra voortdurend en is vinnig oesbaar, binne 60 tot 90 dae ná ontkieming.

Vir iets anders het RAW-sade die Rosa Bianca-eiervrug. Dit is ’n Italiaanse erfenisgroente wat mollige wit-en-laventelstreep­vrugte lewer.

Dit is bekend vir sy ferm, romerige vleis en ’n delikate, nie-bitter smaak.

Kweek suikermielies

Suikermielies benodig ruimte, maar is ideaal vir die agterkant van die groentetuin wat volson en skuiling teen die wind kry.

Weens die vlak wortelstelsel wat nie deur ’n penwortel geanker is nie, word dit maklik omgewaai.

Om dit relatief naby aan mekaar te plant bied wind­beskerming en help ook be­stuiwing aan. Plant in blokke en nie in ’n enkele ry nie, want plante moet mekaar bestuif.

Kirchhoffs se Golden Bantam Sweetcorn is ’n erfenisgroente-variëteit wat sedert die vroeë 20ste eeu ’n gunsteling van die tuinier is.

Die langgroeiende plante produseer veelvuldige mielie­koppe van 14 cm tot 16 cm lank, gevul met soet, geel pitte.

Alice Coetzee, Netwerk24

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.