Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe interaktiewe sentrum ’n skatkis

’n Skatkis vol interessanthede wag op besoekers aan die Golden Gate-Hoogland- Nasionale Park in die Oos-Vrystaat nadat ’n nuwe interpretasiesentrum daar geopen is.

Die Sanparke-ereveldwagters het Vrydag (04/10) ’n interaktiewe en leersame sentrum by die Glen Reenen-kamp van dié nasionale park geopen. Dit bevat verskeie inligtingsborde en uitstallings wat toeriste meer van die park en die geskiedenis vertel.

Die sentrum bevat afdelings oor die park se voëls, geologie, dierelewe, plantegroei, paleontologie, geskiedenis, aktiwiteite, fasiliteite, klimaat en rotskuns.

Des Bothma, die projekleier van die Sanparke-ereveldwagters, sê hulle vertrou dat dié geskenk van die ereveldwagters die besoekerservaring in Golden Gate sal verbeter deur die park se wonderlike eienskappe ten toon te stel.

Sipho Mkhwanazi, die streekkommunikasiebestuurder van Sanparke, sê die interpretasiesentrum is ideaal vir die park omdat dit besoekers op ’n reis neem na die ontdekking van dinosourus-eiers en die pragtige natuurerfenis van fauna en flora wat daar voorkom.

Property Mokoena, die uitvoerende hoof van Sanparke se parkeafdeling, het sy dankbaarheid teenoor die ereveldwagters uitgespreek en gesê hulle is altyd bereid om te help waar hulle kan.

“Julle het dié projek in jul eie tyd en met jul eie geld aangepak. Ons waardeer en ondersteun julle.”

Die ereveldwagters se voorbereiding en beplanning vir die sentrum het reeds sowat drie jaar gelede begin toe die bestuur van die park vir hulle ’n versoek gestuur het om met die oprig van die sentrum te help.

Bothma sê hul betrokkenheid by die ontwikkeling van die Mokala-interpretasiesentrum (by die Mokala- Nasionale Park by Kimberley) het hulle gehelp om mense te identifiseer wat hulle met dié projek sou kon help. Helicia Delport is kort daarna as kunstenaar gekontrakteer.

Christo van Staden, ’n lid van die Sanparke-ereveldwagters se Vrystaat-streek, het die projek van stapel gestuur, en Bothma het later by die span aangesluit.

Nadat die belangrikste onderwerpe vasgestel is, het die soektog na inligting, foto’s, tegniese raad en kundiges begin.

Met die eerste werksessie in Oktober 2016 het die ereveldwagters die rame en vertoonkaste gebou en geverf.

“Dit was toe dat ons rigting gekry het oor hoe om die taak verder te hanteer,” sê Bothma.

Bothma het verlede jaar die bestuur van die projek oorgeneem.

Ná talle ure se raadpleging en tyd wat Bothma met sy kamera in die omgewing deurgebring het, het hy besluit die span is gereed om die navorsing aan spesialiste by instellings soos die Nasionale Museum en die Oorlogsmuseum in Bloemfontein en die McGregor-museum in Kimberley te oorhandig.

“Dit het meer as ’n jaar geneem om genoeg inligting en materiaal te versamel om die kunswerke te finaliseer en sodoende ’n idee te kry van hoe die eindproduk sou lyk. Dit het eers in Oktober 2018 gebeur,” sê Bothma.

Van Maart tot einde Mei vanjaar kon die span die laaste fase van die projek aanpak.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.