Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Nuwe skool op hande

Bykans 70 vergaderings later, maar met baie welwillendheid en ’n strewe na ’n gemeenskaplike doelwit, kom Kroonstad se Trio-skool tot stand.

Philip Campher, same­roeper, sê daar was van die begin af ’n dringendheid by die ouers van leerlinge aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) en die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) om ’n oplossing vir volhoubare moedertaal­onderrig te ontwikkel.

Hoewel die twee skole nog vir ’n onbepaalde tyd akademies afsonderlik gaan funksioneer, sal die sportspanne reeds as Trio-sport meeding, en almal wel in dieselfde sportdrag.

Die Trio-skool word nie as die produk van ’n samesmelting gesien nie, maar as ’n nuwe skool wat sterk op goeie moedertaal­onderrig sal fokus.

Die skool wil uitmuntende onderrig in drie rigtings, naamlik akademie, landbou en tegnies, bied. Daar word beoog dat dit een van die skole in Suid-Afrika met die wydste vakkeuses sal wees.

Omdat dit Kroonstad as ’n streeksdorp sal laat ontwikkel, sal omliggende dorpe ook hierby baat vind.

Van die ander voordele sal wees dat net een skoolterrein in stand gehou sal moet word, en dat lopende koste só bespaar sal word.

Met landbou en tegniese vakke wat aangebied word, is daar besluit om die skool op Blouskool se terrein te vestig.

Johan Jordaan, verteenwoordiger van Rooiskool, sê geen onderwysers sal vir die eerste twee jaar hul werk verloor nie en hy glo dat daar uiteindelik meer onderwysposte geskep sal word.

Hy sê ook dat die dorp se ekonomie swaar trek en dat die afsonderlike skole gedurig vir borgskappe uit die sakegemeenskap meeding.

Volgens dr. Riaan Oelofse, verteenwoordiger van Blouskool, was die Vrystaatse departement van onderwys baie tegemoetkomend en bereidwillig om met die stigting van die nuwe skool te help.

Hy sê die departement gaan minstens R200 miljoen bespaar omdat twee Kroonstadse skoolterreine vir Engelse skole beskikbaar gestel sal word. Die twee Afrikaanse laerskole in Kroonstad is besig met ’n soortgelyke proses.

Die departement van onderwys het reeds sy steun vir die beoogde nuwe skool gegee. Dr. Tate Makgoe, LUR vir onderwys, het ’n brief aan die onderskeie beheerliggame gestuur om die departement se ondersteuning hangende die statutêre proses te bevestig. ’n Kennisgewing moet in die Staatskoerant gepubliseer word, waarna belang­hebbendes 90 dae tyd het om insette te lewer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Kontak Kontak ons
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.